8 dae gelede
Koeëls ‘vlieg’ op die Vlakte
MOORDTONEEL: Dié jong seun is Donderdagaand in Beacon Valley doodgeskiet.Foto: FACEBOOK  ~ 

DIE dodetal vir verlede week se bloody bendeskietery in Mitchells Plain staan reeds op 11.

Dit is nadat nóg vier mans in afsonderlike voorvalle afgemaai is.

Drie mans is Donderdagaand en nog een Vrydagoggend doodgeskiet.

In die jongste voorval is ’n groentesmous in Daffodilstraat, Lentegeur, in die kop geskiet. Hy is op die toneel dood. Nog ’n onskuldige, 31-jarige man is in die rug geskiet.

Donderdag in nóg ’n skietvoorval, om 16:10, is ’n 30-jarige man in Beacon Valley vermoor.

Daardie dag omstreeks 23:00 is ’n 17-jarige seun in Bentleystraat in Beacon Valley afgemaai en sy 19-jarige pel raak geskiet.

Gepomp

Die 17-jarige is noodlottig in die kop geskiet en sy vriend in die been.

Skaars minute later is ’n 31-jarige man in Staceystraat in Tafelsig vol lood gepomp. Hy is in die kop en nek geskiet en later per ambulans na die hospitaal geneem, waar hy dood is.

Volgens Byron de Villiers van die polisieforum in Mitchells Plain is hulle baie bekommerd oor die bende­moorde.

De Villiers sê: “Die gebied is baie gespanne en daar is ’n groot polisiesigbaarheid in die area om teenaanvalle te voorkom.”

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, is die vier moorde bendeverwant en word dit nog ondersoek. Hy voeg by niemand is al vir die moorde gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters