Verlede maand
Koeëls eis nóg ’n jong seun
STUKKEND: Farazaana Williams kan nie haar trane keer terwyl Nazeema March haar troos nie.  ~ Jonathan Lestrade

“EK HET hom gesmeek om in die huis te bly en reg aan te trek.

“Toe sê hy hy is klaar reg, maar ek het nie besef hy bedoel hy’s reg om te gaan nie!”

Só vertel ’n niggie van die jongste jeugdige slagoffer wat Sondagaand ná ’n skietery in East­ridge, Mitchells Plain, sy laaste asem uitgeblaas het.

Die skote wat so klap in Mitchells Plain is besig om een gemeenskap ná die ander met bloed te bevlek – vanaf Beacon­ Valley tot Tafelsig en nou East­ridge.

Gisteroggend het die Wes-Kaapse minister­ van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, die families besoek van die boys wat dié naweek in Beacon Valley geskiet is.

Net ’n entjie verder, in East­ridge, het nog ’n familie vir hul tienerseun se Janazah voorberei.

Nur Williams (17) is die 12de slagoffer wat binne net 3 dae in die kruisvuur van Mitchells Plain se bendes beland het.

Nur, ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Beacon Hill, was Sondagaand net ’n paar meter weg van sy huis toe die skote begin klap het.

Sy niggie Farazaana Williams en sy antie Nazeema March het gister met Son gesels.

Nur se mammie, Nadia, was nog te getraumatiseerd om met mense te praat.

Pla

Farazaana was baie tight met haar neef Nur.

Sy vertel Nur het so ’n tipe aura rondom hom gehad toe hy nog in die huis was.

“Dis amper asof hy geweet het dis sy laaste dag.

“Hy’t my ‘Tietie’ geroep, iets wat hy nooit doen nie.

“Hy’t langs sy ma gaan lê en wat my erg pla, is hoe hy heeltyd gesê het hy is ‘reg’.”

Farazaana sê nadat Nur geëet het, het hy buitentoe gegaan en dit was kwalik ’n paar minute later toe die geluid van skote die lug vul.

Farazaana sê verder: “Yor, my hart is in stukke. As hy net geluister het. Ek het hom nog gesmeek om binne te bly, want almal het gesien wat in ons gemeenskap aangaan.

“Ek het hom nog gevra of hy dieselfde wil hê, dat ons moet rondhardloop as familie.”

Luidens inligting het Nur saam met sy sokkervriende op die hoek van Smutsstraat gesit toe twee onbekende­ jongens die groep jongelinge genader het.

Toe Nur wou weghardloop, het een van die jongens hom gepootjie en net daar op die toneel agter in die kop geskiet.

Die twee verdagtes het te voet gevlug.

March beskryf haar neef as ’n baie snaakse, tergerige persoon.

“Ons ken hom in die huis, want binne is hy ons kind, maar buite weet ons nie wat hy aangevang het nie.”

Dit het ook aan die lig gekom dat Nur familie is van klein Ayesha Kelly (10), wat in die Desember 2019-skoolvakansie in ’n koeëlreën gesterf het.

Skok

Die Kelly-familie vertel hulle is nog besig om oor die skok van hul meisiekind se dood te kom en nou moet hulle probeer om vrede te maak met die verlies van nóg een van hul jongspan.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, bevestig hierdie jongste moord.

Hy sê ook geen arrestasies is nog uitgevoer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters