13 dae gelede
Koeël tref laitie
HOSPITAAL TOE: Imtiyaaz Delport herstel nadat ’n dwaalkoeël hom getref het.  ~ 

’N LEERDER van die Primêre Skool Saambou in Manenberg is gister in die voortslepende bendegeweld in dié buurt raakgeskiet.

’n Dwaalkoeël het die 11-jarige Imtiyaaz Delport, ’n gr. 4-leerder, skrams in die nek getref.

Hy is na die hospitaal geneem en is gister laatmiddag ontslaan. Hy moet weer Maandag hospitaal toe gaan.

Die voorval het omstreeks 12:00 in Irvinestraat gebeur. Dit was ’n drive-by shooting.

Sy mammie, Firdouz Deport, sê haar seun het by hul jaart se hekkie gestaan toe die dwaalkoeël hom tref.

Sy vertel: “Hy het steke gekry en is weer ontslaan.

“Hy het teruggekom van ’n vriend toe die gangsters weer begin skiet.

“Hy het in die hek gestaan en omgedraai om by die huis in te hardloop toe hy die brandpyn in sy nek voel.

“Ons het hom dadelik na die hospitaal geneem. Gelukkig was hy net skrams getref. Dit kon soveel erger gewees het. Ek is net bly my kind leef nog.”

Inwoners van Manenberg het die afgelope week elke aand in die strate gemarch teen die bendegeweld wat weer die afgelope twee weke in die area woed.

Talle onskuldige mense is al in die bloedige bendegeweld tussen die Americans en Hard Livings-bende doodgeskiet.

  • Laas Donderdag het nóg ’n man in Manenberg koelbloedig gesterf.

Manenberg is nou ’n red zone, wat beteken ambulanse kan die gebied slegs met polisiebegeleiding binnegaan.

Veral bejaardes ly ook onder­ die bendeskietery, want gesondheidswerkers kan nie meer hul chroniese medisyne by hul huis kom aflewer nie.

Die inwoners vertel aan Son die gangsters skiet elke dag en gee nie ’n duit om wie in die pad is nie.

Die gatvol inwoners soek vrede het beoog om voort te gaan om elke aand in die strate te march totdat die gangsters ophou skiet.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters