2 dae gelede
Koeël eis jong ma
NOODLOTTIG: Die man het langs sy kar inmekaargesak en gesterf.  ~ Foto Verskaf

’N MA van Hillview op die Kaapse Vlakte is Dinsdag dood nadat ’n dwaalkoeël haar helder oordag getref het.

Shameema Abrahams (26) is in die maag geskiet en het later in die hospitaal beswyk.

Dié tragiese voorval het te midde van ’n bendeskietery op die hoek van Hillviewlaan en St. Charlesweg in Lavender Hill gebeur.

Abrahams het na verneem word haar twee minderjarige kinders by die crèche gaan haal en in die bendes se kruisvuur beland.

Sy het by die crèche se hek in probeer vlug, maar het inmekaargesak en is na die hospitaal geneem waar sy later afgesterf het.

Volgens inwoners moes hulle ook gisteroggend vroeg by die mediese sentrum in Hillviewlaan plat op die grond gaan lê weens die gangsters se skietery.

Die bevreesde inwoners sê die area was twee weke stil, maar nou het die bendeskietery weer opgevlam.

  • In ’n ander skietvoorval Dinsdag is ’n 44-jarige man in Delft koelbloedig dood­geskiet.

Die skietery het omstreeks 17:45 in Tornadosirkel in The Hague uitgebreek. Die man is op die toneel dood.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die man in sy motor gesit toe twee onbekende mans op die motor losbrand en hom noodlottig wond.

Piemp

“Hy het in sy bronskleurige Volkswagen Jetta voor sy girlfriend se huis in die motor gesit toe daar op hom geskiet word. Die man het probeer wegkom, maar het buite langs sy motor aan sy wonde beswyk.”

Past. Dean Ramjoomia verbonde aan die Nehemiah Call Initiative vra inwoners van die Kaapse Vlakte om met die polisie saam te werk en gangsters te piemp­ wat onskuldige mense so doodskiet.

Ramjoomia sê: “Terwyl ons mense nie self moordenaars en drug merts uit hul huise en wegkruipplekke sleep nie, sal die bendeskietery nie ophou nie.

“As ons mense nie verantwoordelikheid aanvaar vir hoe ons met mekaar lewe nie en mense beskerm wat misdaad pleeg, sal daar meer en meer moordenaars uitbroei.

“Misdadigers se families laat toe wat in gemeenskappe gebeur en in ’n mate is ons verantwoordelik vir die moorde en misdaad in ons gemeenskappe.

Skakel

“Die kultuur van geheimhouding en stilte moet verbreek word, anders gaan ons vir altyd deur ons eie gemeenskappe geviktimiseer word.”

Volgens Van Wyk is niemand nog vir die twee moorde gearresteer nie en die cops volg nog leidrade op.

Enige iemand met inligting oor dié twee skietvoorvalle kan die polisie se tolvrye Stop Misdaad-nommer skakel by 08600 10111 of gebruik die SMS-lyn: 32211.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters