22 dae gelede
Klong ken pyn en dwelms
VAT 'N BREAK: Eon Adams en Davidene Lucas sit op die hof se trappies. Davidene het getuig sy het die dag van Orderick se dood saam met Adams gerook.  ~ Jonathan Lestrade

ORDERICK Lucas (1) se ma het gereeld Mandrax in sy mond geblaas om hom te laat slaap.

Dié besonderhede het gister uitgekom in die Kaapse hooggeregshof, waar die haarkapper Melvin “Mel” Volkwyn vir die moord op die kind verskyn. Die kind se lyk is op 2 April 2019 in ’n drein gevind. Hy was eers nege dae vermis.

Opdaag

Davidene Lucas, Orderick se ma, was gister vir die derde dag in die getuiebank.

Sy en Volkwyn was koptjommies wat gereeld saam drugs gerook en saam gesteel het.

Op 24 Maart 2019 het Davidene by Eon Adams gerook toe Volkwyn daar opdaag en haar na die merchant toe stuur. Davidene sê sy het nie dié dag vir hom drugs gaan koop nie, maar verder gesit en TV kyk. Orderick was by haar.

Volkwyn het deur adv. Susanna Kuun laat weet sy het aangebied om drugs te gaan koop en gesê hy moet na Orderick kyk.

“Dis nie waar nie. Ek het vir hom en Jonathan Alexander (’n vriend van albei) gesien toe die mense wat my van ’n selfoondiefstal beskuldig het my by Eon se huis uitgetrek het.

“Toe ek die volgende dag by Eon se huis vir Orderick gaan soek, is ek daar ingelig Mel het die kind gevat.”

Kuun het vir Davidene gesê Volkwyn sal kom getuig Adams het vir hom vertel sy het nie na Orderick gevra nie.

“Toe jy daardie oggend omgegaan het, het jy eers vir Eon gevra of hy nie drugs het om te rook nie. Jy het nie na jou kind gevra nie. Is dit waar?”

Volgens Davidene hét sy iets gevra om te rook, maar dit was nadat hy haar ingelig het Volkwyn het Orderick gevat.

Toe Kuun vir haar sê Volkwyn gaan getuig hulle het gereeld in Orderick se teenwoordigheid drugs gerook en dit in sy gesig geblaas het, het sy dit erken.

Die hof het ook gehoor die kind se geboorte is nooit aangemeld nie en sy kliniekboekie was agterstallig.

Verder het hy verskeie kere seertjies aan sy geslagsdele, boude, mond en neus gehad. Hy was ook ondervoed.

Vier maande voor sy dood is hy vir ’n gebreekte arm behandel.

Tang

Davidene het aan die hof gesê sy het Volkwyn R50 betaal om die kind na die daghospitaal te neem om sy tande te laat trek.

Toe sy van die werk af by die huis kom, het sy diep skeure in sy mond gesien. Sy het toe uitgevind Volkwyn het die kind se tande met ’n tang getrek.

Volgens Davidene het die polisie en vroue van die buurtwag haar en Volkwyn aangerand vier dae nadat die kind laas gesien is.

“Ek het Mel oor en oor gevra waar my kind is. Mel het net gehuil, so asof hy ’n mistake gemaak het.”

Die saak gaan vandag voort.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters