3 maande gelede
Klong amper ’n maand weg
STEEDS WEG: Daar is nog geen spoor van Chadley Hanslo nie.  ~ Foto Verskaf

“EK WIL net weet of my kind nog lewe.”

Só voel ’n hartseer Anthea Manus van Heinz Park nadat haar seun, Chadley Hanslo, (13) al amper ’n maand vermis word.

Chadley is laas op 13 Februarie gesien toe hy by sy tante in Heinz Park gekuier het. Môre sal dit ’n maand wees dat hy vermis word.

Intussen gaan die soektog na Chadley voort. Die cops, tesame met law enforcement, die buurtwag, walking bus­lede en inwoners van Heinz Park het Saterdag deelgeneem aan ’n soektog om Chadley te probeer opspoor.

Die mense het in twee groepe verdeel en die hele Heinz Park deursoek, maar sonder enige sukses.

Hulle het ook in die bosse en agter by die treinspoor gesoek.

Manus sê: “Die polisie kan nie snuffelhonde gebruik nie, want ek het ál sy klere wat hy onlangs aangehad het, uitgewas. Ek kan regtig nie meer nie.

“Ek wil net weet waar my kind is. Of hy nog lewe en of dood is. Ons het ook al by die hospitale en lykhuise navraag gedoen, sonder sukses. Ek kry nêrens antwoorde oor waar my kind is nie. Hy is nie iemand wat so lank van die huis sal wegbly nie.

Pamflette

“Hy gaan kuier gewoonlik vir ’n paar dae by sy tante in Heinz Park, maar kom altyd weer huis toe.”

Die inwoners wat aan die soektog deelgeneem het, het pamflette uitgedeel met Chadley se foto op.

Chadley is na verneem word laas saam met sy vriende in Heinz Park gesien, maar geeneen van hulle weet wat van hom geword het nie.

Die soektog na Chadley gaan intussen voort en enige iemand met inligting kan sy ma by 065 397 4232 of 074 962 7473 kontak.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters