2 maande gelede
Kliniek faal kind
Jeremiah Ruiters FOTO Verskaf  ~ 

JEREMIAH Ruiters se geval het die personeel by die Factreton-kliniek so geruk dat hulle almal vir berading moes gaan.

Een van die susters wat op 12 Junie 2017 probeer het om hom weer by te bring, kan steeds nie pasiënte behandel nie. Sy is nou doenig met admin en opleiding.

Dít was gister die getuienis van suster Nomana Cokota. Sy is die bestuurder van die kliniek waar die eenjarige Jeremiah dood verklaar is.

Jeremiah se ma, Abigail Ruiters, en dié se boyfriend, Ameerodien Pieters, loop hof vir sy moord en die mishandeling van hom en sy twee sussies.

Die hof meen Ruiters het geweet haar kinders word mishandel. Pieters is ook aangekla van die verkragting van Jeremiah.

Cokota het gister getuig sy was met twee babas besig toe Pieters met Jeremiah by die kliniek ingehardloop kom.

“Hy het geskreeu vir hulp. Die baba se lyfie was leweloos.”

Cokota het gesê­ sy en twee ander susters het noodhulp op die kind toegepas, maar dit was tevergeefs.

“Ons het getry om hom op ’n drip te plaas, maar daar was nie ’n aar nie.”

Cokota het gehuil in die getuiebank en het kort-kort aan ’n glas water gesluk.

Sy het gesê Pieters het vertel die kind het geslaap, maar dat sy asemhaling snaaks geklink het. Hy het die kind toe gevat en met hom kliniek toe gehardloop. In die hardloop het hy met die kind en al geval.

Cokota het getuig dié weergawe het nie gestrook met hoe Jeremiah gelyk het nie.

“Sy klere was vuil. Sy lyfie was ook vuil, soos een wat lank laas gebad is. Hy het ou en nuwe wonde oor sy lyfie gehad. Teen die regterkant van sy kop was ’n oop wond waaruit die bloed geloop het.”

Volgens Cokota het die paramedici vir Jeremiah dood verklaar en gesê die kind se dood is ’n saak vir die polisie.

Cokota het getuig in haar 15 jaar as ’n suster het sy nog nooit ’n geval soos Jeremiah s’n gehad nie.

“Ek moes reël dat al my personeellede berading kry,” het sy huilend getuig.

Die hof het gehoor Jere­miah het die kliniek elke maand besoek. Hy is ’n paar keer na die Rooi Kruis-kinderhospitaal toe verwys en na die Somerset-hospitaal. Een suster het opgemerk die kind word dalk fisiek mishandel. Sy saak is egter nooit na maatskaplike dienste verwys nie.

Adv. Yasmine Rajap, vir Ruiters, wou weet hoekom die kliniek nooit die saak verwys of opgevolg het nie.

Cokota het geantwoord: “Die kliniek het baba Ruiters se saak swak gehanteer.

“As gevolg van die kind se dood het ons nou baie maatreëls ingestel om seker te maak dit gebeur nie met ’n ander kind nie.”

Die saak duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters