2 maande gelede
Klein huise krap
Grant Heinz
Kopkrap: Grant Heinz wonder hoe hy sy groot gesin in die huisie gepas gaan kry.  ~ Jonathan Lestrade

“EK IS happy om ’n huis te kry, want waar ek nou bly, bly ek baie k*k”.

Só sê Nicolette Konstabel (48) van Wendy Park in Ravensmead.

Konstabel sê sy is een van die mense wat ’n huisie gaan kry in die Ravensmead Park Development op die hoek van Florida- en Ullswaterstraat.

“Ek’s al 16 jaar ’n backyarder.

“Dit is baie k*k om so te bly, so, ek kan nie wag vir die huise om klaar gebou te word nie. As ’n mens so by ander mense bly, is jy so afhanklik.

“Die kraan is af, die toilet word permanent gesluit, die hond het al my en my man gebyt. Wie wil só bly?”

Volgens wat sy gehoor het, is die huise maar net tydelik.

“Die plan is dat hulle ander huise gaan bou by die Laerskool Florida wat gesloop is. Hulle is nou besig om die grond reg te maak, dan gaan hulle groot huise daar bou. So, dis maar net nood-behuising en dan gaan ons weer trek,” glo sy.

Leah van Rooy (69) sê sy’s nie ondankbaar vir die huise nie, “maar daar is belowe dat ons twee slaapkamer-huise gaan kry, maar nou is dit net een slaapkamer.

“In die badkamer is daar ’n kraan en dis die enigste kraan in die huis. So jy moet jou badwater en jou water vir jou kos én wasgoed daar tap,” sê sy.

Van Rooy sê: “Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek’s dankbaar vir die huis, maar gee ’n plek waar mens menslik kan woon. Hoe moet mense met groot kinders in ’n eenslaapkamer woon? Waar’s privaatheid?”

Sy woon al 17 jaar in ’n Wendy en ken van bad en was uit ’n waterkommetjie.

“Daar’s net ’n wasbak met ’n kraan en ’n toilet. So dis maar weer waterkommetjie,” sê sy.

Grant Heinz (53), wat ook al 17 jaar in die Park woon, sê toe die council hom en nog ander lede van die projekkomitee na Philippi geneem het en gewys het hoe die huise gaan lyk, het hy vir die council gesê dis nie geskik nie.

“Ons het gevra vir tweeslaapkamer-plekke. In my gesin is ons sewe mense. Hoe gemaak met die een kraan in die badkamer?

“Waar gaan my kinders slaap, onder die trappe?”

Miniatuur: Weet mens nie van beter nie sou mens dog dis ’n toy town.

Verleë

Heinz sê hy het nie gewag vir ’n huis soos dié nie.

“Ek het in 1994 aansoek gedoen vir ’n huis. Ek is verleë vir ’n huis, maar ek is nie verleë vir dít nie. Die huise is so klein, my neighbour sal hoor wat ek sê. Ek sal liewer bly waar ek is,” sê hy.

Son het einde Junie op díe behuisingsprojek afgekom. Gister het Son navraag gaan doen by inwoners oor hoe hulle voel oor die sigbaar klein huisies.

Son is toe verwys na ene Vanessa, wat deel uitmaak van die komitee van dié gemeenskapsprojek. Sy het egter decline om met Son te praat en verwys na ene mnr. Wagner.

Wagner het ingestem en op pad na die behuisingsprojek ’n oproep ontvang van Vanessa. Hy het toe alles gestop en sê hy wil nie meer met Son praat nie.

Son wil dit duidelik maak ons het self gaan navraag doen het oor die klein huisies.

Niks verander: Leah van Rooy sê sal steeds ’n kommetjie moet gebruik om in te bad omdat daar nie ’n bad in die huise is nie.
Tevrede: Nicolette Konstabel sê sy sien uit daarna om te trek omdat dit nie lekker is waar sy nou bly nie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters