11 dae gelede
Klasse oppie kassie virrie kinders
NIE 'N VAKANSIE! Gedurende dié tyd moet leerders steeds min of meer dieselfde hoeveelheid tyd aan hulle skoolwerk wy.  ~ istockphoto

NET oor die klôgoed by die huis is, beteken dit nie hulle hoef nie te leer nie.

Ouers wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, het amper oornag onderwysers geword noudat skole gesluit is.

Veral ouers van hoërskoolleerders met uitdagende vakke soos wiskunde en fisiese wetenskappe, sit dalk met hulle hande in die hare.

Hoe help jy jou kind?

Klaskamer10 op kykNET & Kie (DStv-kanaal 145) is jou antwoord! Dié program fokus juis op wiskunde en fisiese wetenskappe vir leerders van gr. 8 tot 12.

Martin du Plessis en Werner Cronjé, die breinkrag agter Klaskamer10, vertel meer.

Wat presies is Klas­kamer10?

Dis ’n opvoedkundige wiskunde- en fisiese wetenskappe- program wat leerders in gr. 8 tot gr. 12 ondersteun met die belangrikste konsepte in die sillabus. Saam met elke episode kan jy jou gratis werkstuk op ons webblad, klaskamer10.co.za, gaan aflaai. Klaskamer10 word elke weekdag 15:00 uitgesaai op kykNET & Kie, DStv-kanaal 145, met ’n weeklikse omnibus Saterdae.

Hoe kan ouers die program en webblad in dié tyd gebruik?

Klaskamer10 bied ouers die geleentheid om die konsepte saam met die leerders deur te werk. Ouers kan die werkstukke gratis aflaai en die program ook volg om hulleself voor te berei om leerders by te staan in die proses van selfstudie.

Wat is julle raad vir ouers wat skielik ook onderwysers moet wees?

Dis baie belangrik dat ouers moet seker maak die hulpbronne wat hulle vir hulle kinders aanskaf, is van ’n hoë gehalte. Daar is ’n magdom hulpbronne beskikbaar, maar daar is min hulpbronne wat saamgestel is deur kenners in die vakgebied – spesifiek met die oog op wat in die sillabus behandel word, asook wat in die eksamenvraestelle gevra word. In dié tyd is dit belangrik om te fokus op eksamenvoorbereiding.

Wat kan matrieks doen om vir die eksamen voor te berei?

Matrikulante moet sorg dat hul op hoogte bly van die inhoud. Daar is ’n groot hoeveelheid werk wat in ’n kort tyd behandel moet word. Dit is reeds moeilik om al die inhoud onder normale omstandighede te behandel.

Tans, met die sluit van die skole en die onsekerheid oor wat gaan gebeur, is dit belangriker as ooit vir matrikulante om deurgaans op hoogte te bly en self deur die sillabus te begin werk. Hierdie tydperk moet nié gesien word as ’n vakansie nie, maar eerder as selfstudie-tyd by die huis.

Hoeveel uur per dag moet ’n kind aan skoolwerk wei?

In dié tyd moet leerders min of meer dieselfde hoeveelheid tyd aan skoolwerk spandeer as wat hulle sou as daar normale skool was.

Vyf tot ses uur daagliks vir al die vakke is ’n goeie maatstaf.

Wat is die belangrikste ding wat ouers in dié tyd moet onthou?

Probeer om leerders se daaglikse roetine dieselfde hou. Leerders moet steeds ’n sin van verantwoordelikheid handhaaf in dié tyd. Net omdat skole vir langer gesluit is, beteken dit nie dis nou ’n langer vakansie nie.

As leerders voortgaan om ’n roetine te handhaaf en steeds skoolwerk te doen (selfs al is hulle tuis) en solank vooruit te begin werk, sal dit nie so ’n groot aanpassing wees wanneer die skole weer begin nie.

Wat kan kykers van die programme in die volgende paar weke verwag?

Klaskamer10 sal in die komende weke voortgaan met die sillabus soos voorgestel deur die onderwysdepartement en sal daarna ook ’n reeks episodes hê waarin eksamenhersiening gedoen sal word.

Vir dié doeleindes is daar ’n eksamenhersieningsboekie wat leerders van die webblad kan aflaai.

  • Skakel weekdae 15:00 in op kykNET & Kie (DStv-kanaal 145).
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters