2 maande gelede
Klante is van hul trollie af
GEDULDIG: Klante wag in ’n lang ry in ’n apteek.  ~ Jonathan Lestrade

“ASSEBLIEF, mense, koop net wat julle nodig het. Dink aan ons as pensioners!”

Só het pensioentrekkers gister gesmeek.

Dit was omdat winkelsentrums in die Moederstad gister tjokvol mense was wat hulle laaste inkopies voor die lockdown gedoen het.

Die impak van mense wat paniekerig shopping doen, was duidelik in winkels te bespeur.

Nadat pres. Cyril Rama­phosa ’n lockdown van 21 dae weens die corona-virus-pandemie aangekondig het, het mense omtrent na winkeltrollies gegryp.

Toespraak

Dit ten spyte daarvan dat die prez gesê het: “Relax, daar sal genoeg van als wees.”

Ramaphosa het ook gesê pensioentrekkers sal hulle Sassa-geld op 30 en 31 Maart ontvang.

Ramaphosa se woorde was skaars uit sy mond toe begin mense toustaan by deurnagwinkels.

In Mitchells Plain het pensioentrekkers gister al aan die kort end getrek toe daar nie eens basiese goed soos hoender en skoonmaakmiddels beskikbaar was nie.

Soos ant Lorraine Lister (64) en oom Hendrik Steenkamp (66) in die winkel ingegaan het, net so het hulle weer uitgekom.

Lister sê sy weet nie eens hoe om te voel nie. Sy sê: “Daar was níks! Ek weet nie, maar ek worry nou.”

BEDRYWIG: Só het malls gister gewemel van mense wat inderhaas shopping gedoen het. Foto: Jonathan Lestrade

Eerw. Nosey Pieterse (66) het die mense met oorvol trollies gesmeek om aan ander te dink.

Die Mitchells Plainse pastoor wat diens in Atlantis hou, sê as die kerk reëls het, kan die winkels ook reëls hê.

Pieterse sê: “Ons pensioners het nie die geld om op te stock nie. Ons maak staat op ons Sassa-geld.

“Boonop is dit onnodig om só te koop. Dink aan ons.”

Pieterse sê die lockdown is soos ’n normale maand, behalwe dat almal in hulle huis moet bly.

Hy sê: “Gee almal ’n kans soos ons elke maand doen. Nou is die tyd dat ons almal mekaar moet ondersteun.”

Uncle Frederick Abrahams sê hy moes ook maar sy laaste bietjie geld bestee het.

Abrahams sê: “Vir ons is dit baie hartseer dat mense so shop.

“Ek vra weer: Dink aan ander mense.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters