Verlede maand
KYK: Klagte pile op teen ping king

NÓG klagte van moord en poging tot moord kan gevoeg word by die lys aanklagte teen Zane Kilian.

Kilian (39), ’n voormalige rugbyspeler van Gauteng, is aanvanklik in hegtenis geneem vir die beweerde onregmatige onderskepping van kommunikasie van lt.kol. Charl Kinnear se selfoon. Die staat voer aan hy het Kinnear se selfoon duisende kere geping.

Die geping het geduur tot ’n paar minute voor Kinnear se dood op 18 September.

Kinnear, ’n topspeurder by die anti-gang unit, is voor sy huis doodgeskiet.

Kilian is ook aangekla van die moord op Kinnear en sameswering om moord te pleeg.

Gister was die saak op die Bellville-landdroshof se boeke vir ’n borgtogaansoek.

Kilian se droom om weer lid te word van die same­lewing buite die vierhoeke, is egter verder buite sy bereik geplaas toe nóg klagte by sy dossier gevoeg is. Een daarvan is bedrog.

Opgelei

By ’n vorige verskyning, in die Bishop Lavis-landdroshof, het Eric Bryer, Ki­lian se lawyer, ’n dokument ingehandig wat verklaar Kilian is ’n private speurder wat by Psira geregistreer is.

Psira is die regulerende owerheid vir die privaat sekuriteitsbedryf. Dit moet seker maak alle partye is geregistreer en word reg opgelei om dienste te lewer.

Volgens Psira is Kilian nie by hulle geregistreer nie.

Die ander klag hou verband met die aanval op William Booth, ’n strafregprokureur van Kaapstad.

Booth se selfoon is van begin Maart tot in September meer as 500 keer geping – na bewering deur Kilian. Op 9 April het hy ’n hit survive toe hy in sy driveway in sy kar wou klim.

Knap

Son het by ’n betroubare bron verneem Kilian het ook ’n foto van Booth se nommerplaat op een van sy elektroniese toestelle gehad. Booth se vrou se selfoon is na bewering ook geping.

Op die dag van die hit is sy selfoon knap voor die skietvoorval geping.

Booth wou nie kommentaar lewer oor die nuwe klagte teen Kilian nie.

Son verneem agt klagte van moord en poging tot moord kan by Kilian se lys gevoeg word.

Die moord op Nici Heerschap verlede jaar gaan moontlik ook op Kilian se boeke kom. Nici was die pa van ’n Kaapse speurder by die Valke, Nico Heerschap.

Nici het Nico se Toyota Land Cruiser by Nico se huis in Melkbosstrand uitgetrek toe hy geskiet is.

Na verneem word was die skieters daarop uit om Nico af te haal. Nico het, soos Kinnear, onderwêreldfigure en hul doen en late ondersoek.

Gewys

Nóg ’n skietery waarby Kilian se naam genoem word, is dié van Stefan Venter. Die 40-jarige biker is in September helder oordag by die kuierplek Talla’s in Gordonsbaai geskiet.

Die selfoon van Jerome “Donkie” Booysen, vermeende leier van die Sexy Boys, is meer as 500 keer geping, en hier word die vinger ook na Kilian gewys.

Booysen sê hy moet nog vasstel of die geping met die skietaanvalle op hom verbind word.

Kilian se beweerde rol in die hits en pogings tot moord was om selfone te ping. Son verneem hy het ’n stewige bankrekening.

  • Kilian verskyn vandag in die Kaapse landdroshof op die nuwe klagte. Sy borgtogaansoek sal op 27 November aangehoor word.

Bryer sê hy hoop die klagte word alles saamgevoeg sodat net een aansoek gebring kan word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters