10 dae gelede
Kitesurfers slaan wette in die wind
OP HETER DAAD: ’n Surfer is Dinsdag aan die Weskus in hegtenis geneem.  ~ Foto Verskaf

DIS weer open season vir kitesurfers aan die Weskus.

Dít kom nadat ’n surfer vroeër die week in hegtenis geneem is vir die oortreding van die lockdown-regulasies.

Die polisieminister, Bheki Cele, het dié arrestasie tydens sy walkabout gesien en belowe hy gaan vra dat die weermag ontplooi word om strande in die Suid-Kaap te patrolleer.

Dit lyk of Cele se dreigemente min doen om mense af te skrik. Videobeeldmateriaal in die sosiale media wys hoe tientalle kitesurfers die golwe by Shark Bay in Langebaan aan die Weskus geniet.

Middelvinger

’n Woordvoerder van die Good-party, Sammy Claassen, veroordeel hierdie minagting van die regering.

“Dié mense het ons regering, staat en polisie die middelvinger gewys,” sê hy. “Dit lyk asof hulle optree in weerwil van die vlak 3-regulasies wat die president in plek gestel het.”

Claassen sê Good het die videobeeldmateriaal na die Wes-Kaapse polisiebestuur gestuur omdat dit nie gelyk het asof die plaaslike polisie daarin belangstel om die voorval te ondersoek nie.

“Ons doen ’n beroep op die polisieminister om onmiddellik op te tree en die bewyse aan die staatsaanklaer te oorhandig,” sê hy verder.

“Wat ’n mens in daai video sien, is wit voorreg en wit baasskap. Langebaan is ’n rassistiese kolonie van verregse elemente wat ’n swart regering teenstaan.

“Dít terwyl inwoners in bruin en swart gemeenskappe Covid-19-regulasie-verwante polisiepatrollies moet trotseer.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters