16 dae gelede
Kirvan: Tiener soek nou bail
Kirvan Fortuin  ~ Foto Verskaf

DIE 14-jarige meisie wat daarvan verdink word dat sy die wêreldbekende danser Kirvan Fortuin (28) vermoor het deur hom met ’n skerp voorwerp in sy bors te steek, het gister om borgtog aansoek gedoen.

Die saak ressorteer onder die Kinderwet en is dus in camera gehou. Volgens die polisie is dit tot Maandag 29 Junie uitgestel.

Fortuin is op Saterdag 13 Junie in die vroeë oggendure naby sy huis in Sheikh Yusufstraat, Macassar, doodgesteek. Hy het in sy pa, Steven Claasen, se arms gesterf terwyl hulle met hom hospitaal toe gejaag het.

Haatspraak

Son verneem dat die staat dit teenstaan dat die verdagte op borgtog vrygelaat word. Haar prokureur het anders betoog.

Die landdros het die aansoek uitgestel tot Maandag 29 Junie, wanneer uitspraak gelewer sal word.

Die verdagte meisiekind word intussen in ’n plek van veiligheid aangehou.

Intussen het baie mense met woede gereageer ná Woensdag se berig in Son waarin pastoor Oscar Bougardt weer mond uitspoel ná Fortuin se dood.

Van die mense het in die sosiale media geskryf die pastoor moet weer van haat­spraak aangekla word.

’n Man van Macassar wat die slagoffer goed geken het, sê behalwe dat Fortuin Suid-Afrika, asook Macassar, op die internasionale map geplaas het met sy pragtige danstalent, was hy ook baie betrokke in die gemeenskap om jong mense deur dans op te hef.

Met die lockdown wat die meeste lande ter wêreld tans beleef, het Fortuin ook gesorg dat behoeftige mense kos het om te eet.

Die man wonder of die pastoor wat so gal braak al ooit iets vir sy gemeenskap gedoen het – veral in die tyd van lockdown.

Die man wil anoniem bly, maar hy sê: “Daai pastoor is ’n aandagsoeker en gee nie om om mense te beledig nie. Hoe doen mens dit met die Bybel in jou ander hand?”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters