5 dae gelede
Kinders sien hoe ma sterf
Buite werking: Kort ná die ongeluk het werkers uitgekom om te kyk hoekom die kameras nie funksioneer nie.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

’N VROU is ten aanskoue van haar twee klein kindertjies dood toe sy deur ’n beweerde spoedvraat getref is.

Die ongeluk het Maandag omstreeks 08:00 op die hoek van Stellenbosch Arterial-weg en Erica Drive in Belhar gebeur.

Vier ander voertuie, insluitend die vrou se Ford Focus, was in die ongeluk betrokke.

Volgens ’n ooggetuie wat anoniem wil bly, het die bestuurder van ’n taxi teen die vrou vasgeploeg en haar tot op ’n eiland in die middel van die pad gestoot.

hartseer: Dié bloed in die pad wat met sand toegegooi is, is ’n stille getuienis van die dood van ’n jong ma. Foto: PETER ABRAHAMS

Video

Dit het veroorsaak dat sy in twee ander karre vasgery het, vertel die ooggetuie.

In ’n video wat in die sosiale media versprei is, het werkers van die Stad Kaapstad uit hul werksbakkie gespring om die vrou te hulp te snel.

Daar kan gehoor word hoe mense skreeu en gesien word hoe die werkers die voorruit van die motor uitbreek.

Dit was alles vergeefs, want die vrou het in die motor voor haar kinders gesterf.

Volgens Damaris Kiewitz, kapelaan vir die brand-en-reddingsdienste van Belhar, het die vrou se man hul twee kinders by die toneel kom haal, terwyl haar liggaam deur die lykswa verwyder is.

gru-ongeluk: Dié twee voertuie was ook in die ongeluk betrokke.foto verskaf

’n Woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, Jermaine Carelse, het bevestig hulle het omstreeks 08:00 op die ongeluk in Ericaweg, Belhar, gereageer waarby verskeie voertuie betrokke was.

Volgens Carelse was talle verkeersbeamptes en die polisie ook op die ongelukstoneel.

Hy sê: “By die aankoms is daar ontdek dat ’n volwasse vrou in ’n Ford Focus vassit. Sy is om 09:00 dood verklaar.

“Altesaam vier pasiënte is na twee hospitale vervoer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters