6 maande gelede
Kinders sien hoe ma sterf
hoekom? Familie en vriende van Valencia Titus was gister nog erg verslae.Foto: murphy roberts  ~ 

INWONERS van Waterloostraat in Atlantis Ext. 13 is steeds in skok nadat hulle jaarlikse Kersdag-dansfees in ’n tragedie geëindig het.

Ná 18:00 het ’n vermeende dronkie Valencia Titus (44) in die straat doodgery.

Nog iemand is in dieselfde voorval ernstig beseer.

’n Emo­sionele Michael­ Titus­ (48) vertel almal het dopgehou hoe die kinders dans toe ’n kar teen ’n stink spoed in die pad afgery kom.

“Ons dank die Here die kinders kon betyds uit die pad spring, anders kon dit soveel erger gewees het.

“Ek het my vrou deur die lug gesien vlieg en hoe sy bo-op die kar se bonnet val.

“Sy het onder kar beland. Die vark het aangery – met my vrou onder die wiele.

“Hy het byna vir nog ’n tragedie gesorg toe hy op mense afpyl wat rustig voor hulle deur gesit en kuier het.

doodskar: inwoners sak op die driver toe.Foto verskaf

“Die Here in die hemel weet alleen hoe, maar enkele meters van die mense af het hy beheer verloor en in die muur van die huis in geploeg,” vertel Titus.

By Son se besoek het verslae familielede en inwoners van die pad gesit en treur.

Hulle is veral geskok dat Valencia se minder­jarige kinders moes aanskou hoe sy sterf.

Volgens Vincent Simpson het almal ná die ongeluk agter die kar aan gehardloop.

Simpson sê die driver wou die voertuig wegtrek van die muur af en wegry terwyl Valencia nog tussen die wiele vasgesit het.

“Ek het sy sleutel uitgeruk. Die driver kon skaars op sy voete staan, toe inwoners van die straat op hom toesak.

“Woedende mense het hom goed gemoer.”

Simpson vertel verder die bestuurder woon ook in die pad. Hy en sy twee seuns was in die kar toe die voorval plaasgevind het.

Net voor die ongeluk het die drie ’n vrou na bewering ’n lift huis toe gegee.

Geskeur

Daar word beweer die vrou is uit die bewegende kar gegooi.

Dié vrou se dogter het aan Son vertel haar ma het haar teëgesit en haar klere is van haar lyf af geskeur.

Volgens ’n polisiebron het hulle ’n kaal vrou met geringe beserings na die hospitaal geneem.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n woordvoerder vir die polisie, is die 56-jarige driver onder polisiebewaking in die hospitaal.

Hy word vir beserings aan sy kop behandel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters