11 dae gelede
Kinders in selle skok SAMRK-lid
ONDERSOEK: Yvonne Davids en Chantell du Bruyn, twee van die minderjarige kinders se ma’s, saam met Chris Nissen voor die Atlantis-hof.  ~ Murphy Roberts

INWONERS van Mamre het gister by die Atlantis-hof saamgedrom ter ondersteuning van ses van hul mense wat tydens Maandag se optog gearresteer is.

Die groep inwoners sê hulle is keelvol vir polisiebrutaliteit. Dít nadat die cops hulle eers met rubberkoeëls en – volgens hulle – met skerppuntammunisie getakel het.

Verskeie mense het mediese behandeling ontvang.

Chris Nissen van die SA Menseregtekommissie was ook gister in die hof.

Hy vertel dat hy Maandagaand ’n oproep gekry het oor wat gebeur het.

Nissen sê: “Ek het Dinsdag ’n vergadering met die plaaslike polisie gehad en wou weet of enige kinders ook toegesluit is.

Gemonitor

“Die polisie het my verseker dat geen minderjariges gearresteer is nie. Maar by my besoek aan die selle het ons vier minderjariges in die selle gekry.”

Volgens Nissen staan die SA Menseregtekommissie nou die families by en sy kantoor monitor die ondersoek.

Die hofsaak van openbare geweld is tot 30 September uitgestel.

Volgens Yvonne Davids het die cops haar 15-jarige seun goed pak gegee. Hulle het hom ook tussen die groot manne in ’n sel gegooi.

’n Seun (13) wat toegesluit was, se familie vertel dat hulle geskok is oor die manier hoe cops die laities geslaan het.

Volgens Nissen gaan die SA Menseregtekommissie met al die families konsulteer oor die pad vorentoe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters