5 dae gelede
Kind (3) dood ná hondebyt
Vol liefde: Klein Tatum Eksteen saam met pa Viron en ma Tania.  ~ Foto Verskaf

’N GESIN is stukkend nadat ’n hond hulle dogtertjie, wat Down-sindroom gehad het, doodgebyt het.

Tatum Eksteen (3) is Maandag net voor tienuur in Alabamastraat in die Strand by haar ouma en oupa se huis deur die hond aangeval.

Sy was besig om te speel toe die hond, wat aan die familie behoort, haar verskeur het.

Toe Son gister Tatum se pa, Viron, kontak, het sy broer, Ewald, die foon geantwoord.

Hy het gesê hy praat namens die familie.

Volgens Ewald is die familie in rou en bitter hartseer, en sal hulle ongelukkig nie nou al hulle hartseer met die media wil bespreek nie.

Hy sê hulle sal wel in ’n latere stadium oor die hartseer praat.

Medelye

Uit die Facebook-profiele van Tatum se ouers is dit duidelik die meisietjie het sommer diep in baie mense se harte gekruip.

Die boodskappe van medelye en skok het omtrént ingestroom.

Jason Giliomee skryf op Viron se blad: “My innige medelye aan die Eksteen- en Beyers-familie met die heengaan van Tatum, asook die Beukes- en Wagenstroom-families. Mag God julle vertroos in hierdie moeilike tyd.”

Naomi Ruth Fuller skryf: “Jammer om te hoor van julle loss. Dink aan julle in hierdie moeilike tyd. Sterkte.”

Melany Carelse sê op Tatum se ma, Tania, se blad: “Tania Eksteen, Viron Eksteen en Lucritia, so jammer om te hoor van Tatum. Sterkte aan julle en die familie.”

Nadeen Joseph skryf: “Hey, vriendin, my innige meegevoel vir jou en familie. Sterkte, vriendin.

“Weet dat ons Vader julle in hierdie hartseer tyd deur sal dra. Ek hou julle in my gebede, vriendin.”

Naslene Rochert? se boodskap lui: “My innige meegevoel aan jou, Tania, en die familie met die heengaan van jou prinsessie. Mag God julle vertroos deur hierdie tyd.”

’n Woordvoerder van die polisie, Mihlali Majikela, sê ’n nadoodse dossier is geregistreer om die dood van die driejarige te ondersoek.

Majikela sê: “Die slag­offer was in die sorg van ’n familielid ten tyde van die voorval.

“Sy het buite in die omheinde­ jaart gespeel toe die familie se hond haar aanval.

“Die slagoffer het veelvuldige bytmerke reg oor haar liggaam gehad.

“Sy is na die naaste hospitaal vir behandeling geneem waar sy later aan haar wonde beswyk het.”

Son het vroeër berig oor verskeie mense, onder wie kinders, wat deur pit bulls doodgebyt of ernstig in aanvalle beseer is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters