5 dae gelede
Killers nou nommers in die tronk
Tronkbende: Renaldo Galant en Charlton Renier is nou runners vir die 27’s in die tronk. Foto: Peter Abrahams  ~ 

BRAYDEN Graaff se killers is nou deel van die 27-tronkbende.

Renaldo Galant en Charlton Renier het hom om veiligheidsredes by die gang aangesluit.

Kaylene Schroeder, ’n maatskaplike werker, het gister in die saak getuig.

’n Dwaalkoeël het Brayden op 22 Oktober 2016 getref. Hy was in sy ma, Rosten, se arms waar hulle voor hulle flat in Babblers Place se deur gesit het. Sy pa, Brendan, het oorkant hulle gesit.

Renier is in September skuldig bevind op sewe aanklagte wat insluit moord, twee aanklagte van poging tot moord, die oortreding van die Wet teen Georganiseerde Misdaad, die besit van ’n vuurwapen en ammo, asook een van aanranding.

Aktief

Galant is op al die aanklagte behalwe die aanranding skuldig bevind.

Schroeder sê Renier het erken hy was voor die skietvoorval reeds ’n lid van die G-Unit.

Brayden Graaff

“Galant wil nie erken dat hy ’n lid van die groep was nie, maar sê hy het met hulle verkeer. Sy rekord wys egter hy was baie aktief in die bende.”

Albei het kinders en volgens Schroeder het Galant ’n moeilike geskiedenis.

“Van sy tienerjare af het hy vir homself gesorg. Hy het hom later ook met sokker doenig gehou. Toe hy dwelms begin gebruik, het hy die sokker laat vaar.”

Sy sê daar is ’n kans dat albei hulle dwelmmisbruik kan staak, maar dat dit moeilik sal wees om dit in die tronk te doen.

Die saak word volgende Dinsdag hervat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters