6 maande gelede
Killers lag oor hul lang vonnis
tevrede moeder: Die trane van Michelle Mouton, die ma van Kelvin Mouton, vloei vrylik in die hof.  ~ 

“DANKIE, Jesus. Dankie, hemelse Vader!”

Dít was gister die gejuig van die families van vier jong mense wat op een aand by ’n lekkerhuis in Parkwood doodgeskiet is. Hul moordenaars is gister in die Kaapse hooggeregshof gestraf.

Anthony “Humpty” Williams en Lyle Lamohr is laas jaar skuldig bevind aan die moord op Kelvin Mouton, Ryan Petersen, Ryan Harland en Chaundre Mienies.

Die jong mense is op 24 April 2015 in Kelvin se flat doodgeskiet.

Lamohr was glo naar omdat sy meisie hom vir Kelvin gelos het en hy het Kelvin daaroor afgehaal.

Die ander drie is glo doodgeskiet omdat hulle sou piemp.

Regter Ashton Schippers het in sy uitspraak gesê die twee het geen buitengewone omstandighede gehad nie.

“Hulle het ook geen berou getoon nie. Dit sal onregverdig wees om ’n vonnis te gee wat minder as die voorgeskrewe vonnis is.

“Geweld en wreedheid is aan die orde van die dag daar buite en die hof moet ’n duidelike boodskap uitstuur na ander wat hulle daaraan skuldig maak.”

Schippers het toe vir Williams en Lamohr elk vier lewenslange vonnisse vir die moorde gegee.

Lamohr, wat verlede week nog gesê het hy is onskuldig, het nes Williams verbaas gelyk toe Schippers hulle life vir elke moord gegee het.

Hulle is ook tot ses jaar tronkstraf gevonnis vir die besit van vuurwapens en ammunisie.

Terwyl die vermoordes se familielede in die hof van vreugde in trane uitgebars het, het die twee killers gelag.

Shireen Harland, Ryan Petersen se ma, het gesê: “Nou kan ons kinders in vrede rus. Ons kan ook nou rus. Ek kan nie vir die Here genoeg dankie sê nie.”

Chaundre se ma, Abigail, het gesê sy weet nie wat om te voel nie.

“Nou kan ons almal in vrede slaap, want die jongens wat dit aan ons kids gedoen het, is gestraf.”

Michelle Mouton, Kelvin se ma, het die staatsaanklaer en die ondersoekbeampte, AO Wesley Lombaard, bedank vir hul werk om die skuldiges te laat boet.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters