3 maande gelede
Killer terug in die tjoekie
Phelo Mtala
Phelo Mtala  ~ foto verskaf

KNAP werk deur verskeie eenhede van die polisie het daartoe gelei dat 'n veroordeelde moordenaar weer agter tralies sit.

Phelo Mtala is Dinsdagaand gearresteer nadat sy voertuig, met twee vroue en 'n man in, in Durbanville afgetrek is. Hy was oppad na Malmesbury.

Mtala het op 17 Mei vanjaar in die Wynberg-landdroshof verskyn met 'n ander beskuldigde wat daardie dag vrygelaat sou word.

Hy was veronderstel om terug na Pollsmoor te gaan vir ander sake (drie klagte van moord en drie klagte van die besit van onwettige vuurwapens) waarop hy reeds skuldig bevind is.

Mtala is egter verkeerdelik vrygelaat toe hy sy vingerafdrukke op die dokumente gesit het van sy medebeskuldigde wat eintlik vrygelaat moes word.

Sers. Noloyiso Rwexana, 'n polisiewoordvoerder, sê sedert hy ontsnap het, het die polisie slapelose nagte gehad om hom vas te trek.

Rwexana sê hulle kon dit regkry met die hulp van dapper informante.

Mtala sal na verwagting in die Wynberg-landdroshof verskyn sodra hy aangekla word van ontsnapping.

Die drie insittendes van die voertuig gaan ook aangekla word.

Lt. Genl. Khombinkosi Jula, die provinsiale polisiehoof, het sy span, wat uit die speurders van Nyanga, die blitspatrollie en die provincial operational command centre, bestaan, geloof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters