6 dae gelede
Killer sit life vir Nikita
NIKITA LEWIS (24)FOTO VERSKAF  ~ 

“JESUS het jou mammie ’n engel gemaak. Hy het gesien daai man sal nie ophou om haar seer te maak nie.”

Dis hoe Bonita Lewis haar agjarige kleinkind troos wanneer hy na sy ma, Nikita Lewis (24), vra.

Nikita se eks-boyfriend, Lloyd Simbarashe (41), is gister in die Kaapse hooggeregshof lewenslange tronkstraf opgelê vir haar moord.

Nikita het by die Saartjie Baartman Centre for Women and Children in Manenberg geskuil toe hy haar op 9 Oktober 2015 doodgesteek het.

Dié plek het haar tydelike tuiste geword nadat Simbarashe haar op 19 Augustus 2015 met acid gegooi en dae later by haar ouma se huis ingebreek het om haar te sien.

Hy het haar ouma (75) en Nikita aangerand toe hulle gekeer het dat hy haar sien.

Hy is ook skuldig bevind aan die aanranding van die vroue en nog twee mense wat Nikita op die moorddag wou help.

34 keer

Simbarashe, ’n Zimbab­wiër, was ’n taxi driver. Hy het ten tyde van die voorvalle in Du Noon gewoon.

Regter Melanie Holderness het gister in vonnisoplegging gesê Nikita is 34 keer gesteek. “Sy het tot die bitter einde baklei en gesukkel om Simbarashe van haar af te kry. Toe sy uiteindelik haar lot aanvaar het, het sy haar vriendinne aangesê om met die kinders te vlug.”

Holderness het bevind dit was nie ’n passie-moord nie. “Dit is beplan en is koel en kalm uitgevoer.”

Adv. Sheriff Mohamed, Simbarashe se law­yer, het in sy betoog aangevoer life sou nie regverdig vir sy kliënt­ wees nie. Volgens hom is lewenslank so goed soos die doodstraf.

Volgens Mohamed was Simbarashe lief vir Lewis en het gereeld vir haar en haar seun uitgevat GrandWest Casino toe.

Lewis het begin huil toe Holderness haar verswarende getuienis aangehaal het. “Lewis sê deur sy arrogansie en boosheid moes hulle pyn deurmaak.”

Simbarashe het nooit berou getoon nie en het gedurig gesê as die hof hom skuldig bevind, is hy jammer.

Hy het ’n lewenslange vonnis gekry vir moord en 13 jaar vir die ander aanklagte.

Die vonnisse sal gelyk­lopend uitgedien word.

’n Groep vroue van die Saartjie Baartman Centre het die verrigtinge bygewoon.

Die direkteur van die sentrum, Bernadine Barcha, is happy met die vonnis.

“Dit behoort ’n sterk boodskap aan ander daar buite uit te stuur.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters