DIE verpleegsters en dokters van die Tygerberg-hospitaal werk steeds onverpoos om die corona-virus te bestry.
Dít ten spyte daarvan dat die virus reeds die lewe geëis het van baie van dié toegewyde werkers, hul vriende, kollegas en familielede.
Die Champions For Children-vrywilligersklub van Tygerberg se Kindertrust wil met sy veldtog showsomelove in die maand van die liefde aan al die gesondheidswerkers iets teruggee.
“Ons vra die publiek en besighede om te pledge en kontantskenkings te gee om blomme te koop vir die gesondheidswerkers van die Tygerberg-hospitaal.
“Die veldtog plaas die kollig op die moeilike tye wat die frontline-werkers beleef en die moeilike omstandighede waaronder hulle al ’n jaar werk.”
Die vrywillige werkers wil hê die personeel wat so hard werk, moet voel hulle is geliefd en mense is dankbaar vir die werk wat hulle doen.
Champions For Children en vrywilligers van die trust sal in die laaste week van Februarie aan die werkers in al die kindersale blomme oorhandig.
Die trust wil wys hy ondersteun die gesondheidswerkers en wil bewustheid skep oor die Champions For Children-vrywilligersklub.
Besoek
Mense wat geld wil skenk, kan gaan na die website tygerbergchildren.org.za.
Belangstellendes kan op dieselfde site nog inligting kry oor die Tygerberg-hospitaal se Kinderfonds.
In die sosiale media is ook nog inligting hieroor. Besoek gerus die Facebook-blad Tygerberg Hospital Children’s Trust, soek die handle @HospitalTrust op Twitter, kyk by @tygerbergchildren op Instagram of lees op LinkedIn verder oor die Tygerberg Hospital Children’s Trust.