5 dae gelede
Kieser sê sy vote eerder vir Jesus
Washiela Harris  ~ Grafika: Tyrone Apollis

“ONS ken nie eens vir ha’ nie.”

Só sê sommige inwoners van wyk 82 in Tafelsig, Mitchells Plain, toe Son hulle gister vra om hul raadslid, Washiela Harris, te rate.

Die meeste inwoners hier met wie Son gepraat het rakende Harris se perfomance die afgelope twee jaar, rate haar nul uit vyf.

Gebrek

Harris het in 2019 die wyk oorgeneem in ’n tussen­verkiesing nadat die vorige wyksraadslid gesterf het.

Priscilla Ohlsson, Mar­garet Roberts, Sergio Redban en Essie Jonathan gee almal vir Harris nul uit vyf sterretjies.

Hulle moan meestal oor die gebrek van of stadige basiese dienslewering.

Roberts sê: “Ons kry swaar hierso. Almal kry swaar.

“Daar’s nooit werk nie. Jong mense lê op straat.

“Mense maak matriek klaar, maar daar’s nie werk vir hulle nie. Hoe moet ek my kind nou aanmoedig om op skool aan te bly?”

Ohlsson kla: “Hulle (die Stad Kaapstad) sny pensioners se water af.

“Mense se krag word afgesit, dan moet hulle R2 000 of R3 000 betaal om die water terug te kry.

“My ander neighbour het drie maande lank gewag voordat hulle haar watermeter reggemaak het nadat dit gebreek het.

“En dan het hulle die nerve om te sê ons moet vir hulle vote. Ek vote vir niemand nie. Ek vote vir Jesus.”

Die enigste inwoner wat darem vir Harris twee sterretjies uit vyf gee, is Marce­lino Absalom.

Hy sê: “Ek gee vir haar twee, strictly twee, want ons straatligte brand darem in die aande.

“Maar die meeste van die goed hier moet ons as ’n community self doen, soos die parkies skoonmaak en strate vee.”

Belowe

Sy neighbour Christelle Januarie sê op haar beurt: “Ek sal nie eens vir haar een punt gee nie.

“Washiela doen niks vir ons nie. Ál wat die DA doen, is om agtermekaar te belowe. Ek kry nie werk nie.

“Ek is al dik, want hulle belowe net.

“Hulle sê jy moet DA vote, dan gaan jy werk kry.

“Die DA gee nie werk nie. Die DA deel net sweaters en keppies en pamflette uit. Dis al wat jy van hulle gaan kry. Klaar.”

Marcelino se pa, Peter Absolom, gee Harris ook nul uit vyf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters