12 dae gelede
Kids verkool
vat lank: Elanor Adams sê die brandweer het eers amper twee uur later uitgesteek.  ~ 

“EK WAS so vas aan die slaap dat ek nie eens ’n brandreuk of die gille van die huilende kinders kon hoor nie.

“Dis hoekom ek myself blameer ...”

Só sê ’n hartseer ouma, Elanor Adams (50), wat gister haar twee kleindogtertjies in ’n verwoestende brand verloor het.

Die brand het omstreeks 02:00 in ’n wendyhuis in dié ouma se jaart in Flamingo-singel, Colorado Park, uitgebreek en die lewe van haar kleindogters Zaithoen (2) en Zainura (7 maande) Brandt geëis.

Volgens Adams was die kinders se ouers – haar seun Cameron (30) en sy meisie, Tasneema Brandt (27) – weg uit die wendy om ’n foon te gaan haal toe die brand ontstaan het.

Adams verduidelik: “Ek wou weet hoekom hulle so laat vir ’n foon wou loop en hoekom hulle nie in die oggend kon gaan nie.

“Ek het hulle gesê ek is moeg, want ek kyk elke keer na die kinders. Net dié aand het ek besluit ek gaan slaap en het hulle gevra om by die huis te bly.

“Hulle het steeds uitgegaan en die vrou wat by my werk, gevra om na die kinders te kyk.

“Ons het toe later uitgevind hulle het ’n vuur gemaak en die kole in die wendy gesit om hitte in die houthuis te kry.”

Moedeloos sê die ouma: “Ek weet nie hoekom nie. Daar ís dan krag in die wendy.” Adams sê sy het eers van die brand bewus geraak toe haar man haar wakker maak.

“Al waaraan ek kon dink, is dat my kleintjies in daai huis is. Die vuur was klaar te hoog om in te hardloop.

“Cameron het geskree en gehuil en toe ons weer kyk, was Tasneema net missing. Ek vermoed sy het weggehardloop.

“As ek net kon geweet het ...” huil die ouma.

Adams het bygevoeg dat die brandweer eers twee uur later uitgekom het.

“Hulle het so lank gevat. Toe ons die vuur sien, het ons onmiddellik gebel.

“My man en die neighbours het met tuinslange gespuit en probeer blus.

“Dit maak my kwaad omdat die brandweerstasie net hier anderkant sit. As hulle uitgekom het toe ons gebel het, sou dit seker die kinders se lewe gered het.”

Geskreeu

’n Buurman sê anoniem hulle moes skreeu toe die brandweermanne die wendy sommer wou afbreek.

“Soos hulle die plek afgebreek het, dink ek hulle was nie eens bewus van die kinders in die wendy nie. Nadat ons geskreeu het, het hulle mooi gewerk.”

Die ouma sê sy hoop dis ’n les vir die twee ouers wat heelnag buite rondloop.

Sy beskuldig: “Hulle was irresponsible!”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy sê ’n 30-jarige man is vir kinderverwaarlosing gearresteer. Die man verskyn vandag in die Mitchells Plain-landdroshof.

Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters