3 dae gelede
Kersvader se sleepwa gerob
GETEIKEN: Inwoners van De Doorns plunder gisteroggend ’n lorrie op die N1. Die driver moes noodgedwonge stop weens die betogers se klipgooiery.  ~ Foto Verskaf

DIT was gister ’n vroeë Black Friday in De Doorns.

Net waar jy gekyk het, het betogers flat screen TV-stelle en ander duur goed van die lorries af weggedra.

Vir die betogers het dit gevoel asof hulle ’n bonus gekry het oor hulle nie eens afslag betaal het nie.

Die betogers het die trokke tot stilstand gedwing deur hulle met klippe te bestook.

Daarna is alles wat daarop vervoer is, geplunder.

Dit het gelyk asof Krismis­vader self die lorries daar geparkeer het en die inwoners toe genooi het om te pick en choose van die klomp presente daarop.

Vroue het die TV-stelle op hulle koppe gedra, soos baie vroue in die platteland geleer het om ’n wateremmer op die kop te balanseer.

Die betogers het die besige N1-snelweg met klippe versper en karre is voor die voet met klippe bestook.

Dit was nadat hulle twee groot lorries tot stilstand gedwing en toe kaal geplunder het.

Die inwoners, wat meestal oor werkloosheid ontevrede is, het hulle frustrasies reeds in die vroeë oggendure grootpad toe gevat.

Dis kort nadat hulle begin betoog het dat die ontevredenes toe ook plunderaars gedraai het.

Die polisie het egter gou gereageer en sommige van die goed is binne ure ná die plundery uit nabygeleë shacks teruggevat.

Die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa, sê die verkeer is van die N1 deur die dorp herlei.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig daar is polisieversterkings na De Doorns gestuur om wet en orde in dié dorpie in die Hex­rivierpas te herstel.

Volgens haar is die polisie op soek na die inwoners wat die twee lorries geplunder het.

Rwexana sê egter geen verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Veroordeel

’n Lorrie wat alkohol vervoer het, is in Worcester ook geplunder nadat dit in ’n ongeluk betrokke was.

Die voorval het in Robertsonweg gebeur.

Die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, en dié van vervoer, Bonginkosi Madikizela, veroordeel die voorvalle ten sterkte.

Madikizela sê: “Dié misdadige optrede kan nie geduld word nie.”

Fritz sê: “Trokke is easy targets vir misdadigers.

“Hulle wangedrag lei tot die verlies van goedere, die beskadiging van voertuie, besering van drivers en selfs sterfgevalle.

“Daar is geen plek vir die plundery van voertuie in ons samelewing nie.

“Dié wangedrag het ’n skadelike impak op die plaas­like ekonomie.”

UPDATE:

Rwexana het Vrydag in 'n verklaring gesê sewe mense, tussen die ouderdom van 25 en 56, is vir diefstal gearresteer.

Die gearresteerdes sluit in ses mans en een vrou.

"Die polisie het van die gesteelde eiendom teruggevind en soek na nog," sê Rwexana.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters