Verlede maand
Kersman se vlam uit toe Valke kom
VAT VAS: Die Valke het op dokumente beslag gelê.  ~ Foto ter illustrasie

DIE kersie van ’n sakeman van Bredasdorp is uitgeblaas toe die Valke hom op bewering van bedrog vasgetrek het.

Andre Rudolph Appelgryn (64) het verlede week sy eerste verskyning in die Bredasdorp-landdroshof gemaak.

Daar word beweer dat Appelgryn, besturende direkteur van die Kapula Candles-fabriek, onreg­matig geld van die tydelike werknemer/werkgewer-verligtingsfonds (Ters) geëis het.

Zinzi Hani, ’n woordvoerder van die Valke, verduidelik dat die Valke se eenheid teen ernstige misdaad en korrupsie Appelgryn se kantore deursoek en op dokumentasie rakende­ die Ters-geld beslag gelê het.

Onregmatig

Hani verduidelik Appelgryn het na bewering tussen Mei en Junie 2020 Ters-geld van die departement van arbeid geëis namens 44 werknemers en dié geld gebruik om sy payroll te befonds.

“Die gesamentlike ondersoek tussen die departement van arbeid en die polisie het tot die slotsom gekom dat die Ters-geld onregmatig geëis is omdat die werkers in die lockdown gewerk en hul volle salarisse ontvang het.”

Sy verduidelik dat die werkers daarom nie vir die Ters-verligtingskema gekwalifiseer het nie.

Hani sê Appelgryn het honderdduisende rande só geëis.

“’n Bedrag van R345 970,20 is in sy onderneming se rekening inbetaal.”

Appelgryn is borgtog van R5 000 toegestaan. Die saak is vir verdere ondersoek tot Donderdag 25 Oktober uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters