2 maande gelede
Kerkmense kry Covid nie geklop
Brendan Ficks  ~ Peter Abrahams

’N EGPAAR wat al jare getroud is, het saam-saam hul stryd teen Covid-19 verloor.

Die Kraaifonteinse gemeenskap was erg geskok toe hulle die afgelope week verneem van oom Attie en ant Bettie Ficks se skielike dood.

Hul seun, Brendan Ficks, het laas week in die sosiale media bekend gemaak hy en albei sy ouers is positief getoets vir Covid-19.

Hy het gesê terwyl hy in isolasie was, is sy ouers in die hospitaal opgeneem.

Ficks se inskrywing lees: “Beide my ouers is in die hospitaal met Covid-19.

“Ek het vandag my uitslae ontvang en ek is ook positief.

“Ek sal by die huis in afsondering bly omdat ek geen asemhalingsprobleme het nie.

“Toe ek vandag die nuutste Covid-19-stastistieke gelees het, het ek besef hoe ons ook deel van hierdie statistieke geword het.

“Eers was hierdie statistieke slegs ’n syfer ver weg van my af.

“Dit het al hoe nader geword toe vriende die virus opgedoen en gesterf het.

“Maar nou het alles verander, want ons het ongelukkig nou deel geword van hierdie statistieke.

“Hou ons asseblief in jul gebede en bly positief in jou gedagtes en uitkyk op die lewe.”

Net ’n dag later het antie Bettie egter haar stryd teen die virus verloor.

Brendan het ’n video op Facebook gelaai waarin hy mense meedeel dat sy afgesterf het.

Hierin sê hy: “My moeder, die gewilde, welbekende antie Bettie, het haar stryd teen Covid verloor.

“My pa is verlede week in hospitaal toe vir Covid-19.

“My ma het oor die naweek baie siek geraak.

“Die Maandag het ons gesukkel om haar wakker te maak.

“ ’n Ambulans is ontbied en sy is Cape Gate-hospitaal toe geneem, waar sy in ’n koma was.

“Sy’t beter geword en wakker geskrik. My suster kon haar besoek.

“Sy het nie genoeg suurstof gehad nie. Haar longe kon dit nie hanteer nie en sy het gesterf.

“Dis baie hartseer. Ons weet my ma was ’n hele tyd lank siek.

“Sy was ’n ystervrou wat nooit van pyn gekla het nie. Dit was nie lekker om my ma só te sien nie.”

Brendan beskryf sy oorlede ma as ’n rolmodel en inspirasie vir vele.

Kritieke

Hy sê hy weet sy ma is by “ons hemelse vader”.

Brendan het nog gevra dat mense ook moet dink aan sy pa, wat toe steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal was.

Maar dit was nie lank daarna nie toe sterf hy ook.

Brendan se suster, Claudia Hollenbacht, het Maandag aan Son bevestig hy is intussen in die hospitaal opgeneem.

Volgens haar is hy baie swak en hy het ’n tekort aan suurstof.

Hollenbacht kon egter nie veel praat nie oor sy baie besig was om haar ouers se begrafnis te reël. Dit word vandag gebou.

Ds. Llewellyn MacMaster van die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suider-Afrika sê die egpaar se afsterwe is ’n groot verlies vir hul kerk. MacMaster beskryf die Fickse, wat verbonde was aan die Scotts­dene-gemeente, as ’n gerespekteerde egpaar wat aktief was in die kerk.

Hy sê ook lidmate het besluit om vir ’n maand ’n breek van dienste te neem weens die geweldige styging in die getal Covid-19-gevalle.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters