3 dae gelede
Kerk bekyk ‘rape’
KRY UITSLUITSEL: Eerw. June Dolley-Major by ’n onlangse betoging voor die Kaapse hooggeregshof.  ~ Peter Abrahams

DIE Anglikaanse Kerk het ná 18 jaar besluit om die verkragtingsaak van eerw. June Dolley-Major – na bewering deur ’n medepriester – te ondersoek.

Die kerk se raad van voor­lopige ondersoek het dít beslis en bevind daar is wel ’n saak om te ondersoek.

Hoewel Dolley-Major se beweerde verkragting al 18 jaar gelede op ’n kerkbyeenkoms in Grahamstad gebeur het, het die Anglikaanse Kerk nooit iets aan die saak gedoen nie.

Dolley-Major het al op twee eetstakings gegaan om aartsbiskop Thabo Makgoba se aandag te kry sodat die kerk teen haar vermeende verkragter kon optree.

Volgens haar het sy al in 2016 gevra die kerk moet haar saak in die kerk se tribunaal verhoor, maar dit het nooit gebeur nie.

Ná haar laaste eetstaking in 2020 voor Makgoba se ampswoning in Bishopscourt, het hy besluit om die kerk se Safe and Inclusive Church-kommissie aan te stel om die saak te ondersoek.

Eers nadat Dolley-Major laas maand besluit het om haar vermeende verkragter se naam bekend te maak, het die raad van voorlopige ondersoek tot die beslissing gekom om die saak te ondersoek.

Luidens ’n mediaverklaring wat die kerk Donderdag uitgereik het, sal die Diocesan Tribunal die saak in Mei in openbare sessies ingevolge die se kerkwette aanhoor.

Makgoba het ’n afgetrede biskop, Peter Lee, as president van die tribunaal aangestel.

Die verklaring lees: “Sodra die datum vir die tribunaal vasgestel is, sal die Anglikaanse Kerk van Suid-Afrika die datum en plek publiseer.

“ ’n Opsie om virtueel by die tribunaal aan te sluit, sal ook beskikbaar gestel word. Aan die einde van die ver­hoor sal die tribunaal binne 21 dae uitspraak lewer. Daar kan teen die uitspraak geappelleer word.”

Volgens die Anglikaanse Kerk mag Dolley-Major en haar vermeende verkragter voortgaan om die saak na die strafhof te neem al word die saak ook deur hulle verhoor.

Die kerk belowe verder hy sal vir albei partye bid, pastorale steun bied en betrokke bly terwyl hulle na leiding en die waarheid soek.

Volgens Dolley-Major gaan sy die saak sonder ’n lawyer betwis. Sy sê dis omdat sy weet baie ander slagoffers van verkragting is nie so bevoorreg om ’n lawyer te bekostig nie.

Sy voeg by: “Ek het al in 2016 met my eerste eetstaking vir aartsbiskop Thabo Makgoba gevra die tribunaal moet die saak aanhoor. Met my tweede eetstaking het ek dit weer gevra en ek het in 2020 met Safer Churches aan die proses begin werk.”

“Die kerk het g’n inisiatief geneem om die saak in sy tribunaal aan te hoor nie, maar ek het. Dit het hulle baie lank geneem om dié besluit te neem.

Oortreder

“Die hartseerste is dat baie getuies in hul verklaring gelieg het. Ek wil sien hoe veilig die proses is en ek wil opbouende kritiek lewer sodat ek vir hulle kan sê waar hulle dinge verkeerd gedoen het.

“Iets wat my pla, is hulle sê ons kan die saak strafhof toe vat. Hoe kan jy vir ’n oortreder sê hy kan ook hof toe gaan?”

Dolley-Major verskyn op 24 Mei in die Kaapse hooggeregshof oor ’n gag order wat die vermeende verkragter teen haar wil kry oor sy sy naam bekend gemaak het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters