12 dae gelede
Karin wys haar ondersteuning
PRAAT UIT: Karin Kortjé sê sy weet watter blywende impak seksuele abuse op ’n mens se lewe kan hê.  ~ Peter Abrahams

SUID-AFRIKAANSE kunstenaars kom een vir een uit om hul steun vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te wys.

Dit volg nadat ’n bekende in die musiekbedryf vir seksuele aanranding gearresteer is.

Die man, wat ook sy eie musiekskool het, is laas Vrydag by sy huis in Kuilsrivier gearresteer nadat ’n saak van seksuele aanranding teen hom aanhangig gemaak is.

Hy het Maandag sy eerste hofverskyning gemaak.

Een van die beskuldigde se oudstudente het die klag gelê nadat die beskuldigde na bewering sedert die student se 14de jaar met hom gelol het.

Die slagoffer, wat nou 21 jaar oud is, het volgens ’n bron verkies om uit te praat omdat hy self ’n dêrra geword het.

“Hy wil sy kind se toekoms beskerm sodat sy kind kan weet dat dinge soos wat hy deurgegaan het, nie reg is nie,” sê die bron.

Die destydse wenner van Idols SA Karin Kortjé, wat ook saam met die beskuldigde gewerk het, het ook haar sê gehad oor die bewerings.

Hande

Kortjé skryf in ’n verklaring: “Ek het kennis geneem van mediaberigte en die daaropvolgende inhegtenisneming van hom op aan­klagte van verkragting en seksuele aanranding.

“Die saak is nou in die hande van die regstelsel waar die aantygings teen hom getoets sal word.”

Volgens Kortjé sal van die deelnemers aan die Overberg’s Got Talent-kompetisie ook hul samewerking aan die ondersoek gee.

“Wenners van die Overberg’s Got Talent-kompetisie het beurse van die CMI (Cape Music Institute) ontvang, waar die verdagte ’n lid van die raad was.

“Hul bywoning daar sal natuurlik deel van die polisie-ondersoek wees.”

Kortjé, wat self ’n slagoffer van seksuele mishandeling is, sê sy is bewus van die blywende impak wat dit op ’n persoon het en sal altyd in solidariteit saam met slagoffers staan.

“Ek sal nóóit wegskram van wat moreel korrek is nie,” benadruk sy.

Die verdagte verskyn weer op 30 Oktober in die Blue Downs-landdroshof. Hy is Maandag op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters