27 dae gelede
Kanaal hou twee vermistes
PROBEER HAAR VIND: Die soektog gaan voort na Abieda Paulse (8) en Yusuf Kiroboto, wat deur die vloedwater in die kanaal by Vygieskraal in Athlone meegesleur is.  ~ 

DIE lyk van ’n meisietjie en ’n man van Athlone wat vermoedelik in ’n kanaal verdrink het, is nog nie gevind nie.

Dit is ten spyte van ’n soektog wat heel naweek aangehou het.

Klein Abieda Paulse (8), ’n gr. 2-leerder, het Donderdagmiddag by die informele nedersetting Vygieskraal in Athlone in ’n kanaal geval en die storm­water in die kanaal het haar meegesleur.

Yusuf Kiroboto, ’n buitelander wat die kind probeer red het, word ook nog vermis.

Die polisie, wetstoepassers, brandweer en nooddienste het Donderdag laatmiddag die soektog weens gure weer afgelas.

Dit is Vrydagoggend voortgesit en gistermiddag laat nog voortgeduur.

Abieda se pa, Michael Steenkamp, sê hulle het gister in Bokmakierie, Milnerton en Koeberg gesoek.

Volgens pa wag die cops vir die lyk om uit te spoel.

Abieda en haar maats het langs die kanaal gespeel toe sy gly en in die water val.

Meegesleur

Die kanaal was weens die stormreën Donderdag in vloed. Abieda is meegesleur en het onder die bruisende vloedwater verdwyn.

Kiroboto, wat gesien het hoe Abieda in die water val, het haar probeer red.

Hy het probeer swem, maar is self deur die kragtige stormwater meegesleur.

Sers. Zeta Norman, polisiewoordvoerder van die Athlone-polisiestasie, sê die soektog is Vrydagoggend voortgesit.

Die soektog moes egter Vrydag omstreeks 13:00 nogmaals voorlopig afgelas word nadat dit na die Swartrivier uitgebrei is.

Die brandweer en nooddienste het Donderdag op en af langs die kanaal na die meisietjie se oorskot gesoek.

Die polisieduikers het ook vergeefs by die rioolsuiweringsaanleg in Athlone na haar lyk gesoek.

Abieda se ouers het Donderdag droewig langs die kanaal gehuil.

Familielede en vriende het hulle probeer troos.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters