2 maande gelede
Kabeldief kry skok van lewe
ONDERSOEK: Die cops is op die toneel in Bonteheuwel waar ’n 28-jarige kabeldief se lyk gekry is.Foto: LEON KNIPE  ~ 

KARMA het blitsig met ’n vermeende kabeldief afgereken.

Die man is doodgeskok toe hy kabels op ’n treinstasie wou steel.

Die voorval het Sondagmiddag in Bonteheuwel gebeur toe die 28-jarige ou en sy vriende kabels by die Bonteheuwel-stasie wou lig.

Die mans was glo in die proses om aan die trein­kabels te peuter toe een van hulle doodgeskok is.

Dit het gebeur terwyl hulle glo die kabels gesny het.

’n Trein wat by die stasie ingetrek het, het op die spoor gegly en amper ontspoor soos dit tot stilstand gekom het.

Treindienste by die stasie moes gestaak word.

Die ander verdagtes het weggehardloop.

Hulle het hulle noodlottig beseerde vriend na ’n huis in Brackenstraat in Bonteheuwel geneem en hom in die jaart gedump.

Die man het later net daar in die jaart aan sy beserings beswyk.

Ruth Solomons van die Stad Kaapstad het die voorval­ bevestig en Son na Metrorail verwys vir kommentaar.

Lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die lyk van die man wat geskok is, is in Brackenstraat gevind.

Traut sê die verdagte is dood weens ’n elektriese skok en hy het aan sy wonde beswyk.

“Die voorval word nog ondersoek.”

  • In nog ’n voorval is vier vermeende kabeldiewe Sondag in Delft gearresteer.

Hulle het 106 m kabel gesteel.

Lede van die metro cops het die diewe Sondag­oggend op heterdaad by Freedom Farm betrap.

Die beamptes het gereageer nadat die gespuis nie besef het hulle is op CCTV waar hulle die kabels gesteel het nie.

Die verdagtes (21, 25 en 26) was nog besig om die kabels uit te grawe toe hulle gevang is.

  • In nog ’n voorval is ’n 36-jarige man gevang nadat 300 m gesteelde kabel in sy besit gevind is.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters