13 dae gelede
Kaapstad spog met laagste werkloosheidsyfer
HELPENDE HANDE: Van links staan Carlo Vizzi, hoof van ontwikkeling: ondernemings en verskaffers by die Stad Kaapstad; Shariefa Osman, die eienaar van Ossie Printing and Exquisite Stationery; rdl. James Vos en Joseph Ruiters, besturende direkteur: The Business Associate.  ~ Foto Verskaf

KAAPSTAD het die laagste werkloosheidsyfer van alle metro’s in Suid-Afrika.

Dit staan nou op 24,8%. Daar het ook 4 000 mense meer werk as dieselfde tyd verlede jaar.

Die statistieke kom uit die Quarterly Labour Force Survey. Landwyd staan werkloosheid op 29,1% – die hoogste sedert 2008. Die Stad Kaapstad se burgemeester, Dan Plato, sê daar was positiewe groei en 19 000 werkgeleenthede meer is verskaf.

“Harde werk lê voor en dienste wat ekonomiese groei en werkskepping bevorder, is meer as voorheen nodig.

“Ons werk hard daaraan om ’n bemagtigende besigheidsomgewing in Kaapstad te skep. Ek is veral trots daarop om entrepreneurs en dié wat hulle eie besighede wil begin, te help.”

Plato sê die besluit van Virgin Atlantic om direk van Londen na Kaapstad te vlieg, is ’n goeie aanduiding van hoe die werk wat deur die Stad en sy vennote gedoen word, sy inwoners baat.

Vervaardiging

“Ons fokus ons energie daarop om beleggings te lok wat werk skep en ekonomiese groei bevorder.”

James Vos, mayco-lid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, sê: “Sektore waar uitstekende groei moontlik is, is Business Process Outsourcing (BPO), tech, ‘sea and sky’-ekonomieë soos lugvaart en mariene vervaardiging, asook die voedsel- en drankbedryf, toerisme en die gasvryheidsbedryf.”

Vos sê hulle werk graag saam met rolspelers soos GreenCape om die las van load shedding te verminder.

“Die Stad sal in sekere gevalle besighede van load shedding kwytskeld as daar ’n sterk motivering is soos om jobs te red. Ondanks die grim nasionale statistieke het ons gewys deur geteikende ingryping en steun kan ons die regte omgewing skep vir werkskepping en ’n meer welvarende Kaapstad.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters