Verlede maand
Kaapstad... Ontmoet die DA se burgemeesterskandidaat
geordin hill-lewis
Hy vertel dat die Moederstad was nog altyd na aan sy hart.  ~ 

OM ’N verskil te maak.

Dít is die hartsbegeerte van die DA se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, in die komende munisipale verkiesing.

Die party het Geordin Hill-Lewis Maandag formeel as kandidaat aangekondig, maar hy het oor die naweek reeds eksklusief met Son gesels.

Hy vertel hy kry nou die geleentheid om daardie verskil te kan maak.

“Ek is die seun van ’n enkelma wat ’n verpleegster van beroep was. My ma het haar hart op haar mou gedra en het geglo om ander te help, gee haar ’n doel in die lewe. Dit is wat by my vassit.”

Die 34-jarige vertel dit is hoe hy die amp wil benader.

“My motivering is om ’n positiewe impak op die samelewing rondom my te maak.

“Dis belangrik om eerste die situasies rondom jou te hanteer voordat jy die groter dinge aanpak. My doelwit is om Suid-Afrika weer aan die werk te kry sodat ons as land suksesvol kan wees.”

Die onderhoud vind plaas net toe sy vrou vinnig moet uitglip. Dit maak dat hy net voor die eerste vraag die onderhoud stop om haar te soengroet.

geordin hill-lewis
Hy is met sy hoërskoolliefde, Carla, getroud en hulle is die trotse ouers van 'n dogtertjie.

“Ek is met my high school sweetheart, Carla, getroud. Vandag is ons die trotse ouers van ’n kleuterdogtertjie. Hulle albei is belangrik vir my, maar so ook is my werk en ek het die wilskrag om ’n verskil te maak.”

Indien hy suksesvol ná die verkiesing gekies word, sal Hill-Lewis op 34 die jongste persoon nóg wees wat burgemeester van die Stad Kaapstad word.

Die huidige parlementslid is bewus daarvan dat ’n groot taak op sy skouers rus.

“Daar is so baie mense wat sukkel. Miljoene het hul werk verloor; klein besighede het hul deure gesluit.

“So, mense kry regtig swaar in elke gemeenskap. Nog voordat ek in die pos is, wil ek sê ek sien dit oral.”

Tuiste

Hill-Lewis beklemtoon dat dit hom egter push om ’n verskil te maak. “Ek wil nie hê dit moet vir altyd so wees nie. Ons kan dit verander in Kaapstad. Ons het ál die bestanddele.”

Die Moederstad was nog altyd na aan sy hart.

“Kaapstad is van driejarige ouderdom af my tuiste.

“Die stad het die mooiste versameling mense; die uiteenlopendste en interessantste ook.”

Hy sê hy sien daarna uit om in die komende weke honderde Kapenaars te ontmoet en hulle te vertel wie hy is en waarom hy die burgemeestersketting verdien.

geordin hill-lewis
Dit is sy hartsbegeerte om 'n verskil te maak.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters