Verlede maand
Kaapstad kry dalk sy jongste mayor nóg
cape town
Kaapstad kry ná die komende munisipale verkiesing ’n nuwe besem.  ~ 

KAAPSTAD kry ná die komende munisipale verkiesing ’n nuwe besem.

Son het verlede week betroubaar verneem dat Geordin Hill-Lewis die DA se burgemeesterskandidaat vir die Stad Kaapstad in die plaaslike verkiesing sal wees.

Hill-Lewis, ’n parlementslid, het met die huidige burgemeester, Dan Plato, meegeding in die party se interne proses.

In April is onderhoude met die kandidate uitgestel weens ’n dispuut oor die samestelling van die kies­paneel.

Die DA se regskommissie het toe beslis dat die kiespaneel hersaamgestel moet word.

Kort nadat Bonginkosi Madikizela as lid van die provinsiale parlement bedank het, is daar bespiegel dat Plato na die wetgewer sal terugkeer. Daardie gerugte loop steeds, veral omdat die DA die pos nog nie gevul het nie.

Plato is in Mei 2009 die eerste keer tot burgemeester verkies ná Helen Zille se verkiesing as premier.

In 2011 het hy die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid geword, maar ná die bedanking van Patricia de Lille in November 2018 het hy na die burgersentrum teruggekeer.

Die DA maak later vanoggend amptelik sy burgemeesterskandidate vir die groot munisipaliteite bekend.

Bronne binne die party het egter aan Son genoem Hill-Lewis, een van drie ondervoorsitters van die DA in die Wes-Kaap, is wel die kandidaat.

Baie het hom vooraf as die gunsteling beskou.

Jongste

geordin hill-lewis
Geordin Hill-Lewis

Hill-Lewis het ’n BCom en honneursgraad in politiek, filosofie en ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het ook ’n meestersgraad in ekonomiese beleid van die Universiteit van Londen.

Hy is sedert 2011 ’n parlementslid en tans die DA se woordvoerder oor finansies.

As hy suksesvol verkies word, sal Hill-Lewis op 34 die jongste burgemeester wees wat die Stad Kaapstad nóg gehad het.

Son het die DA om kommentaar genader, maar het teen druktyd nog geen reaksie gekry nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters