Verlede maand
Kaapse paaie eis 12 lewens
dood: Die bestuurder van dié bakkie het gesterf.FOTO’S VERSKAF  ~ 

MINSTENS 12 mense het sedert Vrydag in verskeie ongelukke op Wes-Kaapse paaie gesterf.

Die meeste van die oorledenes was voetgangers.

Volgens Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, is ses voetgangers, drie bestuurders, twee passasiers en een persoon op ’n motorfiets dood.

Die bestuurder van ’n bakkie is Saterdagoggend in ’n ongeluk by die Engen garage in Blackheath dood.

Sy bakkie het die pad verlaat en op sy neus teen die Engen-bord gaan staan.

Dis nie seker hoe die ongeluk gebeur het nie.

Hy was getroud en het drie kinders.

Gister, sowat vyf kilometer buite Vanrhynsdorp, is die bestuurder van ’n Nissan Almera dood en twee passasiers liggies beseer.

Africa sê die bestuurder het beheer oor die kar verloor en van die pad af gery.

Volgens Africa is 2 392 voertuie afgetrek en random asemtoetse gedoen.

“Altesame 1 205 mense is getoets vir dronkbestuur en 48 bestuurders gearresteer. Die hoogste alkoholinhoud wat gemeet is, was 1.20 mg/1 000 ml.”

Africa sê ander arrestasies wat gedoen is, is weens roekelose en nalatige bestuur, dwarsboming van die gereg en besit van ’n vals bestuurslisensie.

“Altesame 324 boetes is uitgereik. Die waarde daarvan is R452 450.”

Donderdag is drie mense in Swellendam dood toe ’n voertuig wat voorheen ’n ambulans was, in ’n ongeluk betrokke was.

Gerugte het die ronde gedoen dat ’n ambulansbestuurder mense vervoer het toe die ongeluk gebeur het.

Africa sê dit was nie ’n ambulans nie, maar die voertuig was voorheen ’n ambulans.

“Ek het gehoor daar was geen sitplekke in nie.

“Volgens ons inligting is drie mense dood.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters