5 dae gelede
Kaap-erjolle ruk handuit
geruïneer: Cecilia Ranks (58) staan by die vernielde huis.Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

TWEE kapers se poging om ’n afleweringstrok te hijack het so skeefgeloop dat ’n huis stukkend gery is.

Die twee het Sondag in die vroeë oggendure veroorsaak dat ’n trok in ’n huis in Ravensmead ingeploeg het. Die huiseienaar, Aletta Cloete (75), en haar kleinseun, Franco Cloete (21), was vas aan die slaap. Hulle is ongedeerd.

Die voorste deel van die huis is platgery. ’n Gedeelte van een van die vertrekke is ook tot niet.

Volgens Nicholas Claassen (65), ’n inwoner van Parkdeneweg, het hy ’n harde slag gehoor. Hy was eerste op die ­toneel.

Claassen sê: “Die bestuurder van die trok is in De la Reystraat deur twee mans gehijack.

“Die mans het een van die trok se ruite uitgeslaan en die trokbestuurder met ’n gun gedreig.

“Een van die kapers het op die driver se skoot gesit en met hom gestoei terwyl die ander een hom gegunpoint het.

HELPENDE HAND: Nicholas Claassen was een van die eerste mense op die toneel. Hy het die geskokte trok­bestuurder gehelp.

“Die arme lorriedrywer het in Parkdeneweg om ’n draai beheer oor die trok verloor en in die huis ingeploeg. Die trok het in die mense se sitkamer tot stilstand gekom.

“Die driver was ongedeerd en net geskok. Die twee kapers het weg­gehardloop.

“Ek het die trok driver uit gehelp. Hy was erg geskok.”

Cecilia Ranks (58), Aletta se suster, woon agterin die jaart. Ruiters sê sy het net ’n harde slag gehoor.

Sy vertel: “Ek het in die bed gelê toe ek die slag hoor en kort daarna voetstappe op die dak.

“Ek het dadelik op­gestaan en wou die lig aanskakel, maar daar was geen krag nie.

“Ek het deur die venster na my suster geroep. Dié het gesê ek moet kom kyk.

“Toe ek buite kom, het ek gesien dis dan ’n trok wat in die huis vasgery het. My suster was in haar kamer vasgekeer.

“Ons moes die diefwering by die agtervenster afhaal om my suster uit te kry.

Tekkies

“Die kleinseun wat in die agterkamer geslaap het, kon ten minste uit die huis uit kom.”

verlede week: ’n Vragmotor vol Jive koeldrank het verlede week ook ’n Wendyhuis in Houtbaai platgery.

Aletta sê: “Ek was in my kamer vasgekeer en kon nie uitkom nie. Ek weet nie eintlik hoe en wat regtig gebeur het nie.”

Volgens Claassen het een van die kapers se tekkies in die trok agtergebly.

Een van die bure vertel ook van die verskriklik harde slag. Hulle was net so geskok toe hulle sien ’n tronk staan letterlik binne-in die huis geparkeer.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is ’n kapingsaak geopen. Tot dusver is niemand nog vir die voorval gearresteer nie.

  • Die voorval kom kort nadat ’n bejaarde man van Houtbaai dood is nadat ’n vragmotor ’n wendyhuis getref het.

Die trok se remme het gefail en dit het in die wendyhuis vasgery.

William Fortune het voor die wendyhuis gesit.

Fortune (75) is in die ongeluk dood en nog twee mans is ernstig beseer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters