8 dae gelede
‘Jou dag kom’
ongelukkig: Ameerudien Peters is niks happy oor al die uitstelle nie.  ~ 

“JOU tyd is naby ... Baie naby. Dít kan ek jou waarborg.”

Só het regter Monde Samela gister in die Kaapse hooggeregshof aan Abigail Ruiters gesê.

Dis nadat Ruiters vroeër die week in die media gesê het sy is ywerig en gereed om haar kant van die storie te vertel.

Samela het aan Ruiters gesê hy weet sy is baie gretig om te getuig.

Hierdie kommentaar het Ruiters laat glimlag en sy het geknik.

Verskriklik

Ameerudien Peters, haar medebeskuldigde en eks-boyfriend, het intussen soos ’n pop voor hom uitgestaar.

Ruiters en Peters staan tereg vir die verskriklik wrede moord op Ruiters se 17 maande oue seuntjie, Jeremiah.

Daarby saam staan hulle ook tereg op klagte van kindermishandeling. Dit hou verband met Ruiters se twee dogters, Kiana en Zara.

Peters en Ruiters loop hof nadat Jeremiah op 12 Julie 2017 in die Factre­ton-kliniek dood verklaar is.

Peters het toe kort tevore met die kind daar opgedaag.

Die staatspatoloog dr. Marna du Plessis het getuig Jeremiah se dood is veroorsaak deur veelvuldige beserings.

Hy het onder meer bloeding op die brein gehad.

Hofgangers het gesidder toe sy getuig het oor die landskap van beserings oor die babalyfie heen. Volgens Du Plessis het blunt force trauma dit veroorsaak.

Intussen is die saak weer uitgestel omdat die vertaling van Ruiters se borgtogverslag nog nie gereed was nie.

Die hof het gehoor daar is ’n tekort aan vertalers en die tolk wat in die saak werk, help die hof uit.

Bewysstuk

Die tolk het aangedui hy sal die vertaling van die borgtogdokumente klaarmaak en vandag gereed hê.

Volgens die staat sal die verslag net as ’n bewysstuk ingehandig word. Geen vrae sal daaroor gevra word nie.

Peters se lawyer, adv. Alan Koester, het aan die hof gesê sy kliënt is ontevrede oor die uitstelle en sy reg op ’n speedy trial word sodoende aangetas.

Samela het gesê die beskuldigdes is wel op ’n spoedige verhoor geregtig en die hof sal sy bes doen om die probleme op te los.

“Almal is gretig en wil die uitslag van die saak weet, maar die saak moet afge­handel word en dinge moet reg gedoen word,” het Samela gesê.

Samela het die belanghebbendes in die saak en lede van die publiek in die galery om verskoning gevra.

Die regter het verduidelik die vertragings is buite die hof se beheer, maar het be­lowe die hof doen sy bes.

Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters