9 dae gelede
Josters vat kans
AANSOEK: Ismail Ockerts appeal nou.  ~ Foto Verskaf

DIE veroordeelde dikding van die Terrible Jos­ters, Horatio Solomon, en bendelid Ismail Ockerts is verlof toegestaan om teen hul skuldig­bevindings te appelleer.

Regter Owen Rogers het Woensdag in die Kaapse hooggeregshof verlof tot appèl toegestaan. Dis twee dae nadat Solomon en Ismail tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir moord.

Rogers het verlof tot appèl toegestaan teen die skuldigbevinding op moord, poging tot moord en die oortreding van die Wet op Georganiseerde Misdaad (Poca-wet).

Hul aansoek om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnis op aanklag 71 – dwelmhandel – is van die hand gewys.

Solomon, die pa van sewe minder­jarige kids, is Maandag drie jaar tronkstraf opgelê vir die oortreding van die Poca-wet, lewenslank vir die moord op Vernon Botes, nege jaar en agt maande op ’n klag van poging tot moord en nege jaar vir dwelmhandel.

Sy strawwe sal gelyklopend uitgedien word.

Solomon se regterhand, Ismail Ockerts (30), is ook tot lewenslank in die mang gevonnis.

Ockerts is drie jaar opgelê vir die oortreding van die Poca-wet, lewenslank vir die moord op Botes, 8 jaar en 10 maande vir ’n klag van poging tot moord en 12 jaar vir dwelmhandel.

Sy vonnisse sal ook gelyktydig uitgedien word.

Solomon en Ockerts se regsverteenwoordigers het in hul aansoek om verlof tot appèl teen die skuldigbevindings op klagte 35 en 36 (moord en poging tot moord) aan die hof geskryf die staat het nie oortuigende getuienis gelewer om te toon dat die beskuldigdes met ’n gemeenskaplike doel opgetree het nie.

Die regspan meen as die staat strafregtelike aanspreeklikheid wou bewys, sou hy moes bewys dat die appellante hulle aktief verbind het tot die pleeg van die misdrywe op so ’n wyse dat hulle ’n gemeenskaplike doel het.

Die lawyers het ook in die aansoek genoem dat die staat versuim het om getuienis aan te bied om bo redelike twyfel te bewys het dat die appellante in die onmiddellike omgewing van die misdaadtoneel was.

Verder in die aansoek noem hulle ook, met respek, dat die hof gefouteer het toe hy bevind het dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat die appellante skuldig is aan ’n beplande of voor­bedagte plan van moord of poging tot moord.

Afleiding

Die regspan meen daarom die hof het gefouteer toe die beskuldigdes skuldig bevind is aan die genoemde aanklagte.

Wanneer dit kom by klag 71, dwelmhandel, lees die aansoek dat die hof gefouteer het toe hy bevind het die enigste regverdige afleiding, gegewe al die bewyse wat tydens die verhoor aangebied is, is dat die appellante skuldig is.

Die regspan voer aan die hof het gefouteer toe hy bevind het dat die staat die skuld van die appellante wat betref die klag van dwelmhandel bo redelike twyfel bewys het.

Die regspan hou dus voor dat die hof gefouteer het toe hy die appellante skuldig bevind het op aanklagte 35, 36 en 71.

Bendes

Die hof het met betrekking tot bogenoemde skuldigbevindings bevind dat die appellante hulle skuldig gemaak het aan twee of meer misdade wat dui op die bevordering van misdaad wat met bendes verband hou.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters