3 maande gelede
Josters is oral – cop
’n Staatsgetuie vertel die cops alles van die Terrible Joster-bende.  ~ Foto ter Illustrasie

IN DIE ondersoek na die Terrible Josters was een ding duidelik – hulle bestaan oral in die Wes-Kaap.

Só getuig een van die ondersoekbeamptes wat betrokke was by die ondersoek na dié bende-groep.

Die speurder, wie se naam op versoek weerhou word, het sy getuienis gister in die Kaapse hooggeregshof begin.

Hy getuig in die verhoor waarin 12 vermeende Terrible Joster gangsters teregstaan op 71 klagte.

Dié klagte sluit moord, poging tot moord en dwelmsmokkelary in.

Die speurder het gister getuig hulle kan nie bevestig hoeveel lede daar altesaam van dié bende is nie.

Die staatsgetuie het getuig daar kan selfs 10 000 wees, hoewel hy dit nie kon bevestig nie.

Die speurder getuig hy en sy kollegas het vanaf 2015 tot 2018 begin fokus op verskeie bende-groepe wat hulle ondersoek het.

Die Terrible Joster-ondersoek het eers in 2016 begin.

Dít was nadat die speurder en een van sy kollegas gehoor het van ’n getuie wat inligting met die polisie gedeel het terwyl hy in die tronk was.

Die getuie het staatsgetuie gedraai nadat hy besef het sy lewe is in gevaar. Dít was toe hy opdrag gekry het om iemand in die tronk te lem.

“Ons het die inligtingsnota op 18 Januarie 2016 ontvang en my kollega sers. Bonthuys was die lead-speurder in die saak,” getuig hy.

Die twee het ’n vergadering met die getuie gereël en hom vanaf 26 tot 29 Januarie gaan sien.

“Ons het nie enige dockets met ons gehad toe ons hom gaan sien het nie.

“Ons wou hom eers ondervra,” het die speurder getuig.

Hy sê Bonthuys het die meeste van die vrae gestel en hy net af en toe.

“Bonthuys het notas geneem en toe besluit om statements te neem van die getuie. Alles is toe op dieselfde dag geteken.”

Nadat die verklarings geneem is, het die speurders teruggekeer Kaapstad toe.

Daar het hulle die sake waaroor die getuie gepraat het, opgesoek.

“Nadat ons die dockets gekry het, kon ons 204 verklarings afneem,” getuig hy.

Die saak gaan Maandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters