2 maande gelede
Jong skurke kry kans om reg te maak
inisiatief: Jeremy Arries wil die lewe van jong oortreders verryk. Foto’s: ELDRIDGE JASON  ~ 

’N MENS is nooit te sleg om goed uit te draai nie.

’n Life skills-program is vandeesweek in Wellington aangebied in die Wamakersvallei-sentrum, waar geharde jeugoortreders touwys gemaak is oor vaardighede wat hulle in staat sal stel om ’n positiewe bydrae in hulle gemeenskap te maak.

Die program is die breinkind van Jeremy Arries, wie se organisasie, Community Aftercare Sanitation Education (Case), jeugoortreders suksesvol in hulle gemeenskap probeer herintegreer deur middel van hierdie 20 dae lange program

Een van die projekfasiliteerders, Annemie Engela, sê sy is aangenaam verras deur die deelnemers se vasberadenheid om ’n U-draai in hulle lewe te maak.

“Die doel is om hulle toe te rus met vaardighede soos die opstel van CV’s en hoe om hulle in ’n onderhoud te gedra.

“Die boodskap wat ons graag na buite wil stuur, is om nie die boek op grond van sy cover te judge nie, maar om eers die hele boek te lees voordat jy ’n opinie oor iemand vorm.

“Hierdie program gaan die deelnemers definitief help en hulle ’n tweede kans in die lewe bied.”

positief: Annemie Engela, die programfasiliteerder, glo almal verdien ’n tweede kans in die lewe.

Volgens Arries bestaan sy program uit drie dele.

“Ons life skills-program fokus op jeugmisdadigers en die res behels die transformasie van jeugdiges se lewe en om hulle te help om hulle potensiaal te ontwikkel.

“Die plan is ook om hulle werk te help vind sodat hulle iets positiefs in hulle gemeenskappe kan terugploeg.”

Een so ’n deelnemer aan die program is die 39-jarige Warren (’n skuilnaam) van die Paarl.

Volgens Warren, wat tans uit is op parool vir verskeie misdade, het sy paadjie van misdadigheid reeds op 12-jarige ouderdom begin.

“Ek het op 16-jarige ouderdom van my ouerhuis weggeloop en ek was so 20 jaar by misdaad betrokke.

“Vir jare was ek op die Paarl-polisie se most want­ed-lys.

“Dan was ek ook al by ’n driedubbele moordsaak betrokke.

“Nadat ek gesien het wat my leefwyse aan my ma doen, het ek besluit om my te bekeer.

dankbaar: Jakobus Mhalo hoop die skills-program sal sy seun uiteindelik regruk.

“Ek besoek nou skole om leerders te motiveer, maar daar is baie uitdagings.

“Baie van die ouens wat ek nou wil convince om hulle dinge te laat staan, sê ek was dan nou die dag die ou wat ’n gun in hulle hande gestop het om mense te gaan skiet.

“Maar ek is nie meer daai ou nie. Ek gee nie om as mense in my verlede bly vaskyk nie.

“Ek wil ’n change maak in my community.”

’n Ouer van een van die oortreders, pastoor Jakobus Mhalo, sê hy is dankbaar vir so ’n program.

“My seun is vandag 31 jaar oud.

“Hy het hom al op 15-jarige ouderdom tot misdaad gewend. Hy was tronk-in en tronk-uit.

“Hopelik gaan hierdie inisiatief my kind regruk.”

  • Arries doen ’n beroep op Sonlanders en sake-ondernemings wat dalk daarin belang stel om sy inisiatief te ondersteun, om hom te kontak by 060 677 4435.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters