7 dae gelede
Jong ouma in drein gevind
Shantel Brown (37) Foto verskaf  ~ 

NABABEEP. – “Jy sal sonder ’n siekte doodgaan.”

Dít was glo die dreigement wat Shantel Brown (37) se lewensmaat aan haar gebulder het.

Kort daarna het Shantel geheimsinnig verdwyn.

’n Week later is haar ontbindende oorskot in ’n stinkende drein gekry.

Dié drama het hom by die Sonop-woonkwartiere afgespeel.

Volgens Ann Brown wou haar dogter niks meer met die lewensmaat te doen gehad het nie.

“Hy was te jaloers. Die Saterdag voor haar verdwyning het die twee weer kwaai gestry.

“Shantel het weggestap en gevra waarom hy haar nie wou uitlos nie. Volgens haar was alles tussen hulle oor en uit.”

Dit wil voorkom of Shantel die aand weer na die huis gegaan het, en toe was die fight éérs aan. Dit is ook die laaste keer dat Shantel lewend gesien is.

’n Munisipale werker het verlede Donderdag – op haar verjaardag – op haar lyk afgekom in ’n drein wat enkele meters van haar blyplek af is.

Ann vertel: “Daai kêrel van haar was nog vermetel genoeg om die Sondag­oggend by my te kom uitvind of ek dan nie vir Shantel gesien het nie.

“Ek het aan hom gesê om haar by die polisie (as vermis) te gaan rapporteer. Hy het so gemaak.

“Aanvanklik het hy vir die polisie vertel dat hy haar tydens die rusie net gewurg het.

hierso: Die lyk is in dié drein gevind. Foto: Isaac cloete

“Tydens die soektog het hy selfs hartseer na haar gehelp soek. Voordat haar lyk gevind is, het hy egter gevlug.”

Ann vermoed haar dogter is eers gewurg en dat haar nek daarna gebreek is omdat die moordenaar haar waarskynlik oor ’n heining gegooi en toe daar in die drein gaan dump het.

Shantel het net voordat haar lyk gevind is vir die eerste keer ouma geword. Ongelukkig was dit haar nooit beskore om die kleinkind te sien nie. Haar oom, Paul Landrew, sê: “Shantel was ’n fyn vroutjie; daarom het hy haar in ’n drein gegooi.”

As gevolg van ’n buskaartjie wat die lewensmaat by Shop­rite gekoop het, word vermoed hy het na De Aar uitgewyk.

Shantel word die komende naweek begrawe.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters