21 dae gelede
Jong meisie vang ’n baba
heldin: Sasha-Lee Raaff en Michael junior in ligte luim. Foto’s:JONATHANLESTRADE  ~ 

“HELP! Help! Ek gaan dood!”

Toe sy hierdie hulpkrete van haar antie hoor, het die 10-jarige Sasha-Lee Raaff oor die voorste passasiersitplek van haar neef se kar gespring.

Dis omdat haar antie Chrizelda Agulhas (38) se ongebore baba nie kon wag tot by die hospitaal om kop uit te steek nie.

Dié drama het hom drie maande gelede, op 16 Desember, afgespeel terwyl Agulhas, haar man, Ewald Raaff, en Sasha-Lee op pad hospitaal toe was.

Agulhas het in die kar begin kraam en was in geweldige pyn.

Sasha-Lee vertel: “My antie het geskreeu: ‘Help! Help! Bid vir my! Ek gaan dood!’

“My boeta Ewald het angstig gesê ek kan nie net daar sit nie, ek moet help.

“Ek het onmiddellik oorgespring. Ek het gesien die baba se kop was klaar uit en ek het verder gehelp om Michael junior verder uit te kry.

Skok

“Ek het hom in ’n kombers toegedraai en op sy ma se bors gelê,” sê sy.

Sasha-Lee sê sy het deur die hele drama gehuil en gebid.

“Ek was meer geskok as enige iets anders, maar nou weet ek hoe dit voel om iemand te help as hulle dit nie self kan doen nie. Ek wil sommer nou ’n dokter word,” sê sy laggend.

Die meisietjie sê haar favourite TV-reekse is Chicago Med en Chicago Fire en dít kan dalk die rede wees dat sy so gou gereageer het om te help.

Agulhas sê sy het gevoel asof sy op haar laaste is en niemand sou haar kon help nie.

DANKBAAR: Chrizelda Agulhas, Sasha-Lee Raaff en Michael junior glimlag.

“Dis totdat Sasha-Lee oorgespring het. Gelukkig was sy in die kar. So, ek is baie, baie dankbaar vir haar. Sy het my baie mooi gehelp en ek sal dit nooit vergeet nie,” sê sy.

Cornelia Gardner (70), ’n baie trotse familievriend, sê sy is baie opgemaak met die 10-jarige kind wat ’n baba kon vang.

“Sy makeer ’n goue medalje vir wat sy gedoen het. Sy het ons almal onder trane gehad van blydskap. Sy is ’n ware heldin en ’n mooi, dapper meisie,” sê Gardner.

Vandag is die drie maande oue Michael junior fris en gesond.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters