6 dae gelede
Jong mamma se killer sit 25 j.
VERMOOR: Anthea Thopps het wreed aan haar einde gekom.  ~ Facebook

’N HANDYMAN is tot effek­tief 25 jaar gevangenisstraf gevonnis vir moord, verkragting, huisbraak met die doel om te steel, en diefstal en roof met verswarende omstandighede.

Jacobus Plaaitjies (36) is in die Beaufort-Wes-landdroshof gevonnis vir die moord op en verkragting van die 30-jarige Margaretha Anthea Thopps.

Plaaitjies is tot 25 jaar gestraf vir moord, 25 jaar vir verkragting, 10 jaar vir roof met verswarende omstandighede en 5 jaar vir huisbraak met die doel om te steel en diefstal.

Die hof het beslis ál die vonnisse moet gelyklopend uitgedien word.

Plaaitjies het met die finalisering van die pleitooreenkoms aan die hof gesê hy’t op 21 Julie 2019 tik-lollies en Mandrax saam met vriende gerook.

Vertrou

Daardie aand het hy geld nodig gehad om nog dwelms te koop en het onthou dat Thopps ’n amplifier het wat hy kon steel en verkoop.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Plaaitjies het Thopps en haar familie goed geken. Hy het herstelwerk by haar huis gedoen en ook sommige aande by haar huis gebly vir haar veiligheid.

Gesleep

Die familie het hom geken en vertrou.

“Hy het ’n gat in die verswakte houtstruktuur gegrawe waarvan hy bewus was omdat hy dit by ’n vorige geleentheid moes herstel.

“Hy het die huis deur die kombuis binnegekom.

“Thopps het die geraas gehoor en Plaaitjies herken. Die straatlig wat by die huis ingeskyn het, het genoeg lig in die vertrek gegooi.

“Hy het haar na die sit­kamer gesleep, haar mond toegemaak en haar gewurg totdat sy haar bewussyn verloor het,” sê Ntabazalila.

Plaaitjies het Thopps verkrag en haar handsak en twee selfone geneem. Voordat hy gevlug het, het hy ’n skoenveter styf om haar nek vasgemaak.

Ntabazalila sê Plaaitjies het R200 kontant in haar handsak gevind wat hy gebruik het om dwelms te koop. Hy het die handsak aan die brand gesteek en die res van die items wat in die sak was, later uitgebrand terwyl hy en sy vriende in ’n stuk veld dwelms gerook het.

Staatsaanklaer

Plaaitjies het die een selfoon vir R100 verkoop en die ander een in die veld weggegooi.

Die staatsaanklaer, adv. Carine Teunissen, het aangevoer die oortredings is baie ernstig. “Geslagsgeweld is ’n voortdurende bekommernis in die land.

“Die beskuldigde het die slagoffer erg aangerand deur haar te verwurg totdat sy bewusteloos was en ’n skoenveter om haar nek vasgebind.

“Hy’t haar verkrag terwyl sy bewusteloos was.

“Van die feite wat in ag geneem moet word, is die jong kind, ’n vyfjarige seun, wat nou sonder ’n ma grootword. En die hartseer en woede van haar onmiddellike familie en die gemeenskap se skok.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters