21 dae gelede
Jong couple doodgeskiet
DOODGESKIET: Stacey Beukes se jong lewe is met ’n koeël kortgeknip.  ~ Foto Verskaf

’N MATRIEKLEERDER se lewe is Saterdagaand in Wesbank tragies kortgeknip.

Stacey Beukes (20), ’n leerder aan die Hoërskool Wesbank , is saam met haar boyfriend, Brandon Opel (23), ook bekend as “Trio”, koelbloedig doodgeskiet.

Die couple is in Bethel-straat albei in die kop geskiet.

Beukes is op slag dood. Haar boy­friend het nog ’n paar ure gelewe.

Die meisie se hartseer ma, Magrieta Beukes, was nog erg getraumatiseer en wou nie kommentaar lewer nie.

Volgens Bevan Jacobs, ’n gemeenskapswerker in Wesbank, was die couple nie betrokke by bendes nie.

Hulle was blykbaar in die pad toe daar op hulle geskiet is. Jacobs sê: “Dit is gevaarlik in Wesbank en sekere tye van die aand kan jy nie eens meer buite loop nie.

“Ons het al twee keer die afgelope maand na die polisie­stasie gemarch oor die bendegeweld.

“Ons het nou ’n peace group gestig, wat meestal uit kerkleiers bestaan, om vrede tussen die bendes te bewerkstellig.

“Daar is ook ’n gebrek aan kommunikasie in die verhouding tussen die cops en die gemeenskap.”

Volgens Lorna Frieslaar van die gemeenskapspolisiëringsforum was daar die laaste ruk verskeie skietvoorvalle.

Frieslaar sê: “Ons moet ontslae raak van die baie onwettige vuurwapens wat in die bendes se hande is.

“Ons sit met ’n probleem dat daar nooit genoegsame bewyse is om die gangsters agter tralies te hou nie. Die mense is bang om te praat en die verdagtes word weens gebrek aan bewyse weer vrygelaat.”

Volgens kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, is niemand nog gearresteer nie.

Die motief vir die dubbele moord is ook nog onbekend.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters