3 dae gelede
Jolvrou is toe man se einde
Gelukkiger dae: Tobias Hendricks en sy vrou, Esmeralda, saam met wie hy 20 jaar was.  ~ Foto Verskaf

SY MA het hom nou die dag nog gewaarsku sy jolmeid gaan sy dood veroorsaak.

Toe steek die vrou hom na bewering morsdood.

Ouma Susan Hendricks (88) is stukkend nadat haar seun Tobias Hendricks (63) Woensdag doodgesteek is.

Die voorval het in Barlinka Place, in Clarke Estate, Elsiesrivier, gebeur.

Hendricks vertel aan Son sy het nog Saterdag by haar seun gepleit om sy jolmeid af te los en weer by sy vrou in te trek.

Sy vertel: “Ek het hom gewaarsku dat hy nog sy dood deur daai vrou gaan kry.

“Ek het hom gevra hoekom los hy haar nie. Ek het hom gesê sy pa het ook sy dood deur ’n vrou gekry.

“Al wat hy vir my gesê het, was dat hy dit nie sal doen nie en kyk, daar lê hy nou onder die grond.”

Volgens Tobias se vrou, Esmeralda Hendricks, was sy en haar man die afgelope vier jaar van bed en tafel geskei. Tog, ten spyte daarvan het hulle steeds ’n goeie verhouding gehad. Sy het steeds geglo net die dood sal hulle eendag skei.

Esmeralda sê hulle het dit vir die kinders se onthalwe gedoen.

Sy vertel sy het gelê en slaap toe sy Tobias na hulle oudste seun hoor roep.

Gesterf

“Ek het net iets van daghospitaal gehoor en toe opgespring. Ek het buitentoe gekom en gevra wie daghospitaal toe moet gaan.

“Tobias het sy T-shirt opgelig en my gewys waar sy meisie hom gesteek het. Hy was in die linkerkant van sy bors deur die long en in die arm gesteek.”

Volgens Esmeralda het ’n neighbour met hom gejaag na die daghospitaal in Elsiesrivier, waar hy sowat ’n uur later gesterf het.

“Hy het eers orrait gelyk, maar toe hulle by die daghospitaal kom, het hy begin agteruitgaan. Die dokter het gesê hulle gaan alles doen om hom te probeer red.

“Hulle het nog beplan om hom na die Tygerberg Hospitaal oor te plaas, maar toe sterf hy.”

Esmeralda sê sy’s erg geskok en beskryf haar man se girlfriend as ’n lieflike persoon. Volgens Esmeralda het Tobias sy girlfriend gereeld aangerand.

’n Inwoner wat anoniem wil bly, het dit bevestig en aan Son gesê Tobias het die dag van die voorval weer sy meisie lelik aangerand.

Siyabulela Malo, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie ’n moordsaak ondersoek.

“ ’n Vroulike verdagte (40) is gearresteer en sal binnekort op ’n klag van moord in die hof verskyn.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters