Verlede maand
John/Jane Doe lê lykhuis vol
SUKKEL: Die forensiese patologiediens by die Tygerberg-hospitaal het 160 lyke wat nog nie opgeëis is nie.  ~ Verskaf

DIE groot aantal onopgeëiste lyke bly steeds ’n groot probleem vir die forensiese patologie-eenheid by die Tygerberg-hospitaal.

Daar is tans 160 lyke wat nog nie opgeëis is nie.

Carl Gordon, bestuurder van die Tygerberg-lykhuis, sê wanneer ’n liggaam by hul fasiliteit aankom, kan dit eers ná sewe dae as ’n John of Jane Doe verklaar word as niemand dit opeis nie.

“Ons neem dan ’n stel gesigfoto’s en vingerafdrukke en maak melding van al die merke, littekens en tatoeëermerke,” verduidelik Gordon.

Gordon vertel Son die vingerafdrukke word dan na die polisielaboratorium gestuur vir identifikasie.

“Dit neem ongeveer ses maande om die uitslae te kry en daarom laat ons nie die liggaam binne 30 dae gaan nie. Ons doel is om die oorledene met sy geliefdes te herenig.”

Hy sê as die polisie met leë hande terugkom nadat hulle alles probeer het, sal hulle ’n armebegrafnis hou.

“Ons begrawe dan die lyk en die staat betaal vir die begrafnis,” sê hy.

Zahid Badroodien, mayco-lid belas met gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die Kaapstadse stadsraad het vanjaar reeds R264 000 op behoeftige- en armebegrafnisse bestee.

Begrafnisse vir behoeftiges word gedoen in gevalle waar naasbestaandes, ’n welsyns- of nie-regeringsorganisasie nie kan bekostig om vir ’n begrafnis of verassing te betaal nie. Die Stad dek dan die koste.

Verstaan

Badroodien sê sedert Januarie is 31 behoeftige- en 45 armebegrafnisse gedoen.

Gordon sê daar was al gevalle waar die gesin ná die begrafnis na vore kom, maar hulle verstaan darem die moeite wat gedoen is om hulle op te spoor. Hy sê dis veral moeilik om ’n buitelander te identifiseer, “omdat baie van hulle onwettig in die land is en nie by binnelandse sake geregistreer is nie”.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters