Verlede maand
‘Jeremiah was klaar gewas’
MOORD BESKULDIGDE: Ameerudien Peters se oë peul al van laas week af uit sy kop uit vandat sy ex-meisie Abigail Ruiters begin getuig het. Hy kan nie sy oë van haar afhou nie, dit terwyl sy haar getuienis gee.  ~ Peter Abrahams

DIE moordbeskuldigde Abigail Ruiters kan nie onthou hoeveel keer sy haar eie babaseuntjie gewas het nie.

Ruiters het gister getuig dat sy haar 17 maande oue baba, Jeremiah Ruiters, nie in die week óf naweke gewas het nie omdat haar ex-berk Ameerudien Peters hom klaar gewas het.

Sy het hom wel geborsvoed as sy by die huis gekom het van die werk af en het tyd saam met haar ander twee kinders, Kiana en Zara, spandeer.

Ruiters en Peters staan albei tereg vir die kind se moord en ook die mishandeling van sy ouer twee susters.

Die staatsaanklaer, adv. Maria Marshall, het dit aan Ruiters gestel dat al het sy volgens haar getuienis na­weke vroeg huis toe gekom van die werk af, vertel sy nou aan die hof dat sy nooit die kind gewas het toe Peters saam met haar gewoon het nie.

“Ek sê nie so nie,” het Ruiters ontken. Sy het getuig sy kan nie onthou hoeveel keer sy haar kind gewas het nie omdat dit so lank terug was.

Marshall het dit aan haar gestel dat as sy sê sy het nie haar kind in naweke of in die week gewas nie, gee dit die indruk dat sy nooit die kind gewas het nie.

“Ek het, ek kan nie onthou nie,” het sy getuig.

Sy het ook getuig dat sy naweke die kind se nappies gechange het, maar nie sy broek heeltemal afgetrek het nie.

“Soms het ek net die broek half afgetrek,” het sy getuig.

Verder is Ruiters gevra of sy Jeremiah se bolyf gesien het wanneer sy sy top uitgerek het. “Ja,” het sy getuig.

Dit is toe dat Marshall dit aan haar stel dat volgens ’n doktor en ’n suster – wat getuig het oor Jeremiah se toestand op die dag van sy sterfte – was die kind se liggaam, hare en klere vuil.

“Ja, ek het gehoor wat hulle gesê het, maar ek het niks kommentaar nie,” getuig sy.

Die verhoor gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters