15 dae gelede
Jeremiah se ribbes 14 keer gebreek
Staar na grond: Ameerudien Peters en Abigail Ruiters kyk pal af in die hof. Foto’s: peter abrahams  ~ 

UIT gister se hofgetuienis was dit duidelik Jere­miah Ruiters is langdurig en aanhoudend gemartel.

Tydens die nadoodse ondersoek is 14 frakture aan die 17 maande oue seun se ribbekas gevind.

Dit was ook duidelik die kind se liggaam het probeer genees, maar dit was ’n opdraandestryd.

Jeremiah is op 12 Junie 2017 by die Factreton-kliniek dood verklaar nadat Amee­rudien Peters met hom daar aangekom het.

Peters en Jere­miah se ma, Abigail Ruiters, was nog tot onlangs ’n couple.

Die twee staan saam tereg vir wat waarskynlik een van die mees brutale moorde nóg in Suid-Afrika se geskiedenis is.

Peters en Ruiters staan ook tereg vir die mishandeling van Jeremiah se twee ouer sussies.

Terwyl die staatspatoloog Marna du Plessis gister haar getuienis voortgesit het, het die twee beskuldigdes heeltyd na die vloer gestaar.

Hulle het hulle kop veral laag gehou wanneer die patoloog foto’s van die nadoodse ondersoek opgelig het en aan die hof van die talle beserings uitgewys het waaroor sy getuig­ het.

Abigail Ruiters

Du Plessis het onder meer gesê die jonge slagoffertjie het verskeie nuwe krake, asook ouer krake en frakture aan sy ribbekas gehad.

Een van die nuwer frakture aan die ribbes was selfs bo-op ’n ou kraak.

Dit was so oud, die been daar het reeds begin verdik.

Du Plessis het voorts getuig een van die krake aan klein Jeremiah se ribbekas was baie naby aan sy ruggraat.

Ook hier het die been reeds ’n verdikking gevorm.

Die patoloog het ook bloeding tussen die weefselruimtes van die ribbes opgemerk. Jeremiah het ook ’n kraak aan sy een sleutelbeen gehad.

Die krake aan sy ribbekas is deur stomp geweld veroorsaak.

Die hof het verder gehoor aan die laagste gedeelte van sy maag was ’n kneusplek wat weens bloeding pers en swart verkleur het.

Hierdie besering is ook die gevolg van stomp geweld.

Du Plessis het verder getuig daar was selfs kneusing aan die sak wat die ingewande bymekaarhou.

Die staatspatoloog het verduidelik die sak sit hoog en diep in die maag en dit verg brute krag om dit te beseer.

“Dié tipe besering kan nie deur ’n stamp veroorsaak word nie. Dis deur stomp geweld,” het sy gesê.

Sulke geweld moes aan die bokant van die kind se maag toegedien geword het.

Die saak gaan vandag aan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
7 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters