25 dae gelede
Jeremiah ‘nie goed versorg’
Jeremiah Ruiters  ~ Foto Verskaf

HY HET nooit ’n kans gehad om Jeremiah te was of af te vee nie.

So het die moordbeskuldigde Ameerudien Peters gister in die Kaapse hooggeregshof getuig oor waarom Jeremiah te midde van sy veelvuldige beserings so smerig vuil was.

Peters en Abigail Ruiters, die ma van die 17 maande oue Jeremiah, staan tereg vir die kind se moord, asook die mishandeling van sy twee ouer sussies.

Peters het op 12 Junie 2017 met Jeremiah opgedaag by die Factreton Kliniek in Kensington, waar hy dood verklaar is.

Adv. Maria Marshall, die staatsaanklaer, het dit aan Peters gestel dat Jeremiah baie vuil was.

Marshall het gesê volgens die klinieksuster was Jeremiah se hare, naels en vel vuil.

Peters het met dié stelling saamgestem nadat hy na die foto’s van Jeremiah se nadoodse ondersoek gekyk het.

Marshall het ook aan Peters gestel dit is duidelik dat Jeremiah nie goed versorg is nie.

“Jy is nie reg nie. Hy was goed onderhou wanneer ek na hom gekyk het,” het Peters geantwoord.

Marshall het dit toe aan Peters gestel dat hy voorgee hy is verantwoordelik, terwyl foto’s van die huishouding duidelik ’n ander storie vertel.

Foto’s van ’n smerige, deurmekaar huis is deel van die hofdokumente.

Maar Peters het dikgehou: “As ek hom gewas het, was daar niks soos dit nie.”

Peters het getuig hy was op die dag van Jeremiah se dood besig om uit te vee, die beddens op te maak en al die vuil goed uit die kamers te verwyder.

Marshall het toe vir Peters foto’s gewys van hoe vieslik deurmekaar die huis was.

Hy het getuig: “Toe ek die huis verlaat het, het dit nie so gelyk nie.

“Die klere was in die kaste.

“Die twee komberse op een bed was nie daar nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters