28 dae gelede
Inwoners soek muur voor gat
gatvol: Carmen Kearns en ander inwoners in Bishop Lavis het nou genoeg gehad van die misdade in die gemeenskap. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

“ONS is rustige mense en ons is dik van die crime wat in ons gebied plaasvind.”

Só sê Carmen Kearns, ’n inwoner van Bishop Lavis, wat naby die spoorlyn in Maitland-straat woon waar Rodney Jackson, ’n taxidrywer en sy guardjie, Graham Pasquallie, laas week doodgeskiet is.

“Die kriminele kom oor die spoorlyn, waar daar ’n groot gat in die muur is.

“Ons wil dus hê dat ’n groot muur gebou word om die kriminele weg te hou, en dit sal ons aan hierdie kant ook beskerm,” sê Kearns.

Beroof

Sy sê hul versoek vir ’n muur soos die een wat op 39th Avenue in Elsiesrivier gebou is, kom nie skielik ná die onlangse moorde nie.

“Hier is baie misdade wat al voorheen plaasgevind het, insluitend die moord op ’n polisiebeampte, ’n winkeleienaar en mense wat in hul huise beroof is, óf langs die pad op pad werk toe of terug.”

Kearns sê hulle word geteister – en dít deur jong kinders wat van Clarke Estate oor die spoorlyn kom.

Nog ’n inwoner, Hilary Titus, sê hulle moet snags staatmaak op blaffende honde.

“Ons honde waarsku ons as daar beweging buite is.

“Ons kan nie sommer uitgaan om te gaan kyk wat aangaan nie en maak ook staat op die kommunikasie onder mekaar deur ons selfone of walkie talkies.”

Hulle hoop hul pleidooi sal nie op dowe ore val nie. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters